Bernice West se tweede album hier
Aanhangers kan ook uitsien na ander snitte soos Soen my op my Mond, Agter Jou, Leuens, Sonder Jou, Lyfie, Nie jou X nie, Voel, Dink aan Jou en Hemel op Aarde.
Bernice West het in 2019 opslae gemaak in musiekkringe as naaswenner van Maak My Famous. Sedertdien het dié borrelende Pretorianer al diep spore in die bedryf getrap.
Nie net het sy ’n suksesvolle album, talle nommer-een-treffers en ’n rits toekenningbenoemings op haar kerfstok nie, maar sy was ook onlangs te sien in die gewilde Inhoud Huis-musiekblyspel, Die Gelofte. Na die produksie weghol-sukses behaal het, keer Die Gelofte terug na die AfriForum Teater in September vanjaar.
Maar dis nie al waarmee sy op die oomblik doenig is nie. Haar tweede album, JONA, is pas vrygestel en beloof om bewonderaars se stoutste verwagtinge te oortref.
Volgens die 21-jarige sanger en liedjieskrywer kombineer haar nuutste vrystelling ’n wye verskeidenheid genres, van alternatief en rock tot folk en pop, om ’n vars en unieke klank te skep waarby almal sal aanklank vind.
“Daar was genoeg inhoud vir ’n album en ons wou dit graag met mense deel,” vertel sy. “Dit is baie kommersieël en upbeat. Luisteraars kan uitsien na ’n verskeidenheid van vars nuwe klanke en musiek.”
Oudergewoonte is die album deur ’n kundige span vervaardig en bestaan dit uit ’n verskeidenheid liedjies wat sorgvuldig uitgekies is om ’n impak te maak.
“Daar is net drie liedjies op die album wat ek nie self geskryf het nie. Een is deur Jannes Erasmus, Johan Vorster en Jacomien de Wet geskep, die ander een is spesiaal vir Die Gelofte-musiekblyspel opgeneem en die derde een is ’n moderne weergawe van ’n tradisionele gunsteling,” verklap die sanger.
As jy haar vra van watter snit sy die meeste hou, erken sy dat Ek Skree vir haar baie catchy is omdat sy hou van die produksie en melodie. Jona, die titelsnit wat sover baie goed ontvang is deur die publiek, lê haar ook na aan die hart.
Ander snitte soos Soen my op my Mond, Agter Jou, Leuens, Sonder Jou, Lyfie, Nie Jou X Nie, Voel, Dink aan Jou en Hemel op Aarde is ook op die album beskikbaar.
Die enkelsnit Agter Jou word saam met die album vrygestel en aanhangers word ook beloon met ‘n musiekvideo vir die opgewekte snit, Nie Jou X Nie. Die video vir Nie Jou X Nie, wat in Pretville verfilm is, het vir Conrad Theron aan stuur as die regiseur en is vervaardig deur Ulrich Fischer.
Bernice het in Swartruggens grootgeword en is al van kleins af mal daaroor om te sing en op te tree.
Haar musiekloopbaan het in 2019 amptelik afgeskop en op die ouderdom van 19 het sy Suid-Afrika verteenwoordig deur die nasionale Volkslied te sing voor die toetswedstryd tussen die Springbokke en Argentinië.
Sedertdien het sy al ’n heelwat groot treffers uitgereik, waaronder Sonop-Blom (wat vir 10 maande nommer 1 op Apple Music se ranglys was) en Die Hart. Haar musiekvideo’s is ook al meer as 14-miljoen keer op YouTube gestroom. Sy is ook die jongste Afrikaanse sanger wat nog ooit vir ’n SAMA genomineer is.
Buiten vir haar deelname aan Die Gelofte, bly Bernice besig met optredes en skryf sy gereeld nuwe liedjies. Sy is baie opgewonde om haar nuwe album met die wêreld te deel en hoop dat mense met haar musiek sal kan vereenselwig en hulself daarop en daarteenoor kan uitleef.
JONA is nou beskikbaar op alle digitale platforms hier: https://BerniceWest.lnk.to/Jona
Lees Ook: Rudi Claase vereer tydens Afri-Indie Musiektoekennings
Lees Ook: Rudi Claase hoop om siele te verkwik met nuwe vertoning



