Local news

Alta trap diep spore by VLU

Alta sal in Februarie 2024 vir 30 jaar betrokke wees by die Boksburg VLU.

Na drie dekades bly die Vroue Landbou-Uniue (VLU) deel van Alta Prinsloo se DNS en kan sy nie haar lewe insien sonder die Boksburg-tak nie.

Die VLU bestaan al vir meer as 90 jaar en is ’n nie-winsgewende organisasie wat volwasse vroue verryk. Hulle glo in bemagtiging deur vaardighede en kennis met mekaar te deel.

Alta was vir die afgelope ses jaar die voorsitter van die plaaslike tak en Goudrif-streek.

Haar termyn as streekvoorsitter het Februarie verstryk en sy het toe besluit dat dit ook die einde van haar tyd as voorsitter by die Boksburg-tak, wat in 1960 gestig is.

Die 71-jarige Boksburg inwoner wil wel steeds deel wees van die tak en neem nou die plek in van tesourier.

In Januarie 2024 sal Alta amptelik 30 jaar betrokke wees by die VLU. Haar ma, Fienie Brand, het haar destyds geïnspireer om betrokke te raak by die VLU.

Na net ses maande by die tak het Alta al deel van die tak se bestuur, die tesourier, geword. Sedertdien is Alta steeds op die bestuur, hetsy as tesourier of voorsitter.

Sy het in haar tydperk ook nie ‘n enkele kongres of konferensie gemis nie. Daarom is dit nie snaaks dat sy ook al as die VLU Overvaal se Vonkelvrou van die Jaar was nie.

“Ek het maar grootgeword met die VLU. Later het ek ook my ma na VLU geleenthede soos konferensies toe gevat. In daardie stadium was daar ongeveer so 100 lede deel in die tak. Nou is daar agt,” het Alta verduidelik.

In al die jare by die VLU sukkel sy om te kan sê wat die hoogteput was uit al die werksklasse, ingligtingsklasse, kongresse en konferensies.

Een ding is seker, Alta het baie geleer en gegroei danksy die VLU.

“Ek is ‘n introvert en het in my wildste drome nie gedink ek sal voor mense kan praat nie. Ek het selfs nie voor familie gepraat nie. Die VLU het my totaal en al ‘n ander mens gemaak en ek het baie ondervinding opgetel. Ek weet nie wat ek sonder die VLU sou doen nie. Ek sal dit nie sommer opgee nie.”

Haar raad aan die jonger geslag wat deel wil word van die VLU is, “As jy iets wil leer, raak betrokke by die VLU. Kom kyk wat ons doen. Daar is vaardighede wat jy kan aanleer.

Alta is in Springs gebore en het in Boksburg grootgeword. Sy is baie betrokke by die gemeenskap, veral by die Nederduidse Gereformeerde Kerk Boksburg-Suid en die Klipkerk, waar sy ook op die raad dien. Verder was Alta ook deel van die Voortrekkers.

Die voormalige voorsitter het na skool by ‘n besigheidskollege gaan studeer voordat sy sowat 30 jaar gelede ophou werk het nadat sy getrou het. Sy het in die rekeninge afdeling by die Reserwebank, Man Trucking en Benoni Engineering gewerk.

Volgens Alta het die Boksburg-tak fondsinsamelingsprojekte soos die verkoop van vetkoeke.

Sy herinner ook die publiek om betrokke te raak by hul omgeeprojek, waar die tak plakkies/sloffies, badhandoeke en deodorant insamel.

Die tak se nuwe voorsitter, Marinda Janse van Rensburg verduidelik die VLU takke in die hele Goudrif-streek maak jaarliks met groot oorgawe, artikels bymekaar.

Die items word teen einde Augustus aan ‘n organisasie verbonde aan SAVF geskenk.

Die Boksburg-tak kom elke eerste Woensdag van die maand bymekaar. Hulle volgende vergadering is op 2 Augustus by Rabbit Hole Coffee Café om 09:30 vir 10:00.

Vir meer inligting, kontak Marinda by 072 120 7086.

Lees Ook: Ondersteun die VLU se omgeeprojek

Lees Ook: Plaaslike VLU geniet vergadering

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button