Plaaslike stoeiers maak golwe by strandtoernooi
Die boeties van die plaaslike stoeiklub het albei goue medaljes ingepalm.
Japie en Kadin Botha van die Boksburg Stoeiklub se vaardighede is op ‘n nuwe vlak getoets toe hulle aan die 2025 SAWF Men’s and Women’s Beach Wrestling Championship deelgeneem het.
Hulle was deel van die Ekurhuleni-span wat met groot welslae dié toernooi in Richardsbaai op 22 Maart afgesluit het en ‘n totaal van 21 medaljes, agt goud, vier silwer en nege brons, ingepalm het.
Dit was die eerste keer vir die twee plaaslike stoeiers om op die strand te stoei, maar hulle het steeds uitgestaan en gewys wat in hulle steek.
Japie het weggestap met ‘n goue en silwer medalje, en Kadin met ‘n goue medalje.
“Dit was ‘n ongelooflike toernooi. Na elke stoei-stryd kon ons in die see gaan swem. Ek het dit ook geniet om te kyk hoe die ander stoeiers stoei. Dit was baie harde werk. Ek en my boetie het regtig hard gestoei om daardie goue medaljes huis toe te bring,” het Kadin oor die toernooi vertel.
Sy boetie, Japie, het sy sentiment gedeel:
“Dit was ‘n warm dag en ‘n hele nuwe styl waaraan ons glad nie gewoond is nie. Dit was ‘n groot eer om daar te wees, om Ekurhuleni en die klub te verteenwoordig en te wen,” het hy bygevoeg.
Die klub wens die stoeiers geluk met hul uitmuntende uitslae, sowel as afrigter Japie Botha Snr en beampte Zumie Geringer, wat die stoeiers ondersteun het.
Lees Ook: Boksburg Stoeiklub beïndruk by Ekurhuleni Ope



