Plaaslike VLU geniet konferensie
Lede van die publiek word uitgenooi om aan te sluit by die tak.
Die Vroue Landbou-Unie (VLU) se Boksburg- en Brakpan takke het onlangs hul 28ste jaarlikse konferensie vir die Goudrifstreek aangebied.
Daar is behoorlik uitgehang en alles is keurig voorberei vir die 120 gaste wat die geleentheid bygewoon het. Van die gaste was onder andere Cindy Coetzee, presidente van die SAVLU, asook Barbara Nell, presidente van die Overvaal Streek.
Die spreker vir die oggend, Annie Coetzee, het die gaste behoorlik aan haar lippe laat hang en het die VLU tema ‘Herontwerp jou verhaal’ skitterend uitgebeeld.
Jy is nooit te oud om jou storie te herskryf nie, net jy kan die brawe stap neem om veranderinge teweeg te bring in die skep van ‘n nuwe jy.
Daarna het Danie van der Westhuizen die gaste met pragtige sang vermaak.
Die mooi artikels wat die lede deur die jaar gemaak het is ook ten toon gestel en lede is vir hulle vaardighede beloon.
Die blommerangskikkings op die jaarlikse konferensies is dan ook altyd ‘n hoogtepunt waar die lede meeding in beginners, middelbaar en gevorderde afdelings.
Marinda Janse van Rensburg van die Boksburg-tak het ‘n derde plek vir haar kreatiewe raam verwerf.
Verder is Janse van Rensburg dan ook amptelik as nuwe voorsitter van die Boksburg-tak aangewys en neem oor van Alta Prinsloo wat Boksburg se tak vir ses jaar gedien het.
Prinsloo het as streeksvoorsitter bedank. Boksburg VLU bedank Prinsloo vir die passie waarmee sy gedurende haar termyn gewerk het.
“Dit is groot skoene wat volgestaan moet word,” het van Rensburg gesê,
Die VLU bestaan al vir meer as 90 jaar en is ’n nie-winsgewende organisasie wat die volwasse vroue verryk en bemagtig.
Hulle glo in bemagtiging deur vaardighede en kennis met mekaar te deel.
Die Boksburg VLU kom elke eerste Woensdag van die maand om 10:00 bymekaar. Lede van die publiek word uitgenooi om by die tak aan te sluit.
Vir meer inligting, kontak Janse van Rensburg by 072 120 7086.
Lees Ook: VLU-lede geniet Januarie vergadering
Lees Ook: VLU-lede geniet Januarie vergadering





