August skenk oor die 250 eenhede bloed
Die nasionale bloedbank moedig lede van die gemeenskap aan om bloed te skenk.
Vir August Storbeck (70) van Witfield is dit ‘n eer om sy moue vir die afgelope vyf dekades op the rol om bloed te skenk vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD).
Na sy aftrede is bloedskenk vir hom soos ‘n uitstappie.
Storbeck, wat al die jare administrasiewerk gedoen het, het al sy 265ste eenheid bloed geskenk. Hy is onlangs deur die SANBD vereer en het ‘n toekenning gekry vir die 250 eenhede wat hy geskenk het. Weens die Covid-19 inperking het hy nou eers sy toekenning ontvang.
Storbeck het in sy universiteitsdae in Potchefstroom begin bloed skenk saam met vriende.
“As ons bloed skenk kon ons later terug koshuis toe gaan,” skerts hy.
Sedert daardie jare het hy getrou die bloedbank besoek en net in ‘n noodgeval of as hy siek is nie geskenk nie.
Baie het verander sedert die begin van sy bloedskenkloopbaan, verduidelik Storbeck.
“Daar was nie altyd soveel bloedbanke of plekke waar jy kon gaan bloed skenk beskikaar nie. Nou is daar een by die winkelsentrum en die bloedbank gaan ook uit na winkelsentrums of skole, wat dit makliker maak vir mense om hulle deel te doen.
“Tegnologie het verbeter. In daardie tyd het dokters jou gehelp met die bloedskenk. Ons het altyd probeer om by dieselfde dokter uit te kom wat sy storie ken. Hulle was ook nie so streng nie en jy was toegelaat om ‘n bietjie vroeër te skenk.
“Verder het hulle bottels gebruik, waar hulle nou sakkies vir die bloed gebruik.”
Een ding waarna Storbeck uitsien as hy gaan bloed skenk, is die geskenkies wat hy by die bloedbank kry.
“’n Mens kry koekies en koffie of sap as jy gaan bloed skenk. Ek het ook al baie oulike geskenke soos penne by hulle gekry.”
Storbeck voel ook dit is goed vir jou liggaam om bloed te skenk.
“Jy raak ontslae van jou ou bloed. As ek sukkel met my sinus gaan kyk ek altyd of dit weer tyd is vir my om bloed te skenk, en dan is dit gewoonlik.”
Met die feesseisoen wat om die draai is wat die aanvraag na bloed gaan laat styg, wil Storbeck die gemeenskap aanmoedig om bloed te gaan skenk.
“Dit is belangrik om bloed te skenk. Een eenheid bloed kan minstens drie mense se lewens red,” het hy bygevoeg.
Storbeck se volgende mylpaal is 300 eenhede bloed, en hy sal vir so lank as wat hy kan bloed skenk.
Peter Mafela van die nasionale bloedbank sê die bloedbank waardeer Storbeck se toewyding om bloed te skenk.
Lees Ook: SANBS needs your As, Bs and Os
Lees Ook: Boksburg North CPF roll up sleeves for SANBS



