Sakevroue dankbaar tydens jaareindfunksie
Dit was 'n aand van samesyn waar lede lief en leed gedeel het.
Die Oos-Rand Sakevroue hul gesogte jaareindfunksie te Summer Place gehou, ‘n geleentheid wat in dankbaarheid gehou is.
Oudergewoonte was dit ‘n aand om te onthou waar gaste die geleentheid gehad het om lief en leed te deel en te netwerk.
Een van die hoogtepunte van die aand was ‘n optrede deur die gewilde Afrikaanse sanger, Nicholis Louw. Hy het die gaste op hul voete gehad met trefferliedjies soos Rock Daai Lyfie, Generaal en Net die Een vir My.
Na sy vertoning het Nicholis Louw weer sy gewildheid bevestig toe gaste in lengtes tou gestaan het om foto’s saam met hom te neem.
Volgens Karen Herbst, voorsitter van die Oos-Rand Sakevroue, was die tema vir die jaar dankbaarheid.

“Ons is dankbaar dat ons na 33 jaar steeds ‘n verskil in die Oos-Rand-gemeenskap kan maak en om sakevroue te bemagtig om hulle volle potensiaal te bereik. Ons wil ook dankie sê vir hulle volgehoue ondersteuning. Ons koester hierdie vriendskappe en die waarde van verhoudings wat weer ontgin word,” het Herbst vertel, wat die aand as ‘n sukses beskryf het.
Herbst het ook gesê dat die teenwoordigheid van vorige voorsitter, Susan Noppe, ‘n spesiale gevoel van samehorigheid geskep het.

Noppe, wat sedert die stigting van die Oos-Rand Sakevroue al betrokke was, het vir die eerste keer in twee jaar ‘n funksie bygewoon nadat sy met haar gesondheid gesukkel het.
“Dit was fantasties om terug te wees en lekker om almal te sien. Die vriendskap en samesyn was vir my die hoogtepunt van die aand,” het Noppe gesê.
Verder het Herbst Summer Place bedank vir hulle puik diens en kos wat altyd van hoë gehalte is asook Johan Louw van Terraquip vir sy bydrae tot die aand se sukses.

Vir die voorsitter was die hoogtepunt van hierdie jaar Corné Badenhorst (Katrienkie) se getuienis. Haar tema was ‘Van hawemeisie tot Lady’.
“Ons besef nie altyd waaraan kinders bloogestel word nie.”
Oor die uitdagings van die organisasie het Herbst gesê: “Ons probeer ons bes om onsself te bemark by maatskappye en die dames wat vir hulle werk te nooi na ons funksies. Ongelukkig is ons funksies op ‘n Woensdagoggend en nie alle dames kan ons funksie op daai tye bywoon nie. Bekostigbaarheid speel ook ‘n groot rol. Baie van ons dames is in die proses om af te tree. Die gemeenskap kan ons bystaan deur hulle jonger dames na ons funksie te stuur.”
Die projekte wat hul vir volgende jaar beplan sluit ‘n liefdadigheidsgholfdag, selfverdedigingskursusse vir dames en ‘n Kersboom-ete vir minderbevoorregte kinders in. Hulle beoog ook om meer insiggewende sprekers te kry.
“Ons wil vroue aanmoedig om ons funksies by te woon, en ons probeer om ons funksies meer gemaklik te maak en dat die dames meer pret moet hê,” het sy bygevoeg.
Die voorsitter het ook gesê dat die Sakevroue ‘n passie vir liefdadigheidsprojekte het en moedig dames aan om hulself beskikbaar te stel vir sulke organisasies.
Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na karen.herbst@sanlam4u.co.za
Lees Ook: Adopt these furry friends from Boksburg SPCA



