100 rose vir Cosmos se verjaarsdagmeise
Annie sê geloof is die sleutel tot 'n lang en gelukkige lewe.

‘n Honderd rose vir ‘n honderd jaar.
Dit is wat Annie Malan van SAVF Cosmos gekry het vir haar 100ste verjaarsdag op 15 Januarie – spesiaal van haar kleinseun wat van Dubai kom kuier het.
Selfs na ‘n eeu op die aarde kan mens Annie nog deur ‘n ring trek, met pêrels om die nek en netjiese klere.
Annie het in Kuruman grootgeword en het op 17-jarige ouderdom skool verlaat om administratiewe werk te begin doen.
Sy het toe die liefde van haar lewe, Andries Malan, ontmoet.
Hulle het in 1948 getrou. Die paartjie het toe na Kimberley toe getrek en is geseën met twee seuns. Annie het ‘n tuisteskepper geword.

Andries is in 2006 oorlede en Annie is nooit weer getroud nie. In 2021 het sy na Cosmos toe getrek.
Vir die verjaarsdagmeisie is dit ‘n voorreg om 100 te word – veral omdat sy nog helder en gesond is.
“Dit is nie iets wat vir almal beskore is nie. Ek is dankbaar vir die lewe wat ek vandag het saam met my familie,” het sy gesê.
Annie nog steeds lief vir lees en brei.
Volgens Annie is geloof die sleutel tot ‘n lang, suksesvolle lewe.
“Laat die Here jou leermeester wees. Hy los alle probleme op. Ek sou nie hier gewees het sonder Hom nie,” het sy gesê.
Om die mylpaal te vier, het Cosmos en Annie se familie vir haar ‘n partytjie gehou by die tehuis, met vriende en familie.

Jaques Malan, Annie se kleinseun wat vir haar die rose gebring het, het gesê sy is die wonderlikste mens wat hy ken.
“Sy is altyd positief en het ‘n hart van goud. Verder het sy ‘n goeie sin vir humor. Ek is bly ek kon die dag saam met haar deurbring,” het hy gesê.
Cosmos wens Annie geluk met haar spesiale dag en bedank almal wat die geselligheid moontlik gemaak het, soos Checkers Sunward Park wat ‘n koek geskenk het.
Also Read: 100 candles for Joan