Local news

Kersboks-projek bring weer hoop vir bejaardes in Boksburg

Die organisasie se doelwit is om die kringloop van armoede te verbreek.

Solidariteit Helpende Hand Boksburg-tak pak vanjaar ‘n besonderse Kersprojek aan, een wat senior burgers nie net fisies help nie, maar hul harte aanraak.

Elke jaar, soos Kersfees naderkom en die strate begin glinster met liggies, is daar talle oumas en oupas in ons gemeenskap wat in stilte leef – sonder geselskap, sonder ekstra middele, en sonder iets om na uit te sien.

Hierdie mense het meer as ooit ‘n teken van liefde en omgee nodig.

Daarom het die Boksburg-tak vanjaar 10 bejaardes genomineer wat werklik ‘n verskil in hul lewens kan ervaar deur ‘n eenvoudige, maar spesiale Kersboks.

Die idee is dat gemeenskapslede of gesinne ‘n persoonlike geskenkboks opmaak vir een van hierdie oumas of oupas.

Die bokse bevat basiese toiletgoed soos seep, tandepasta en sjampoe; ‘n bederfie wat die lewe net ‘n bietjie lekkerder maak; en, indien moontlik, ‘n stel klere en ‘n paar skoene.

Elke bejaarde het ‘n nommer van een tot tien, en sodra jy besluit watter boks jy wil pak, voorsien die organisasie die spesifieke besonderhede soos grootte en geslag van die ontvanger.

Die Kersboks-projek is ‘n unieke manier om ‘n persoonlike verskil te maak in die lewe van iemand wat nie altyd deel is van die vreugde van Kersfees nie. Die span by Solidariteit Helpende Hand glo dat elke boks nie net ‘n geskenk is nie, maar ‘n boodskap van hoop en menswaardigheid.

Annerie du Pisanie, voorsitter van die Boksburg-tak, sê die projek groei jaarliks in liefde én ondersteuning. “Elke boks wat gepak word, is ‘n herinnering aan iemand dat hulle gesien word, dat hulle steeds saak maak.Laat ons hierdie Kersfees nie net gee nie, maar opreg omgee.”

Belangstellendes wat wil deelneem aan hierdie projek, kan Annerie kontak by 083 990 3624.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button