Administratiewe beampte ’n ster op die netbalbaan
Die talentvolle netbalspeler wil haar droom volg om ’n buitemuurse Protea-speler te wees.

“Netbal is my gelukkig plek. Die sport leer mans en dames hoe om saam te werk. As jy op die baan is speel jy nie vir jouself nie, jy speel vir jou hele span. Jou span is soos jou familie.”
Só het Marianka Jansen, ’n administratiewe beampte van Laerskool Concordia wat al op nasionale vlak in netbal uitgeblink het, gesê.

Jansen, wat enige verdedigersposisie asook doel en hulpdoel kan speel, het van kindsbeen af al ’n liefde vir sport en netbal gehad.
Die netbalspeler se netballoopbaan het veral begin groei toe sy hoërskool toe is.
“Van 2009 tot 2010 het ek vir Hoërskool Hans Moore se eerstespan netbal gespeel en dit het my die geleentheid gegee om ’n sportbeurs by Hoërskool Kempton Park te kry. Ek het in 2012 die o-18 Gauteng-span gehaal. Ons span het ook die All Ages-toernooi gewen wat daardie jaar by Hoërskool Dr EG Jansen plaasgevind het.
“Na skool het ek aksienetbal gespeel, daar het ek my provinsiale kleure verwerf. In 2018 is ek verkies tot die Protea-aksienetbalspan wat in 2019 in die Kaap gaan deelneem het. Ons het daar die wêreldbeker gewen,” het sy gesê.
Sy was ook verlede jaar gekies om uit te draf vir die Ekurhuleni Senior Ladies-netbalspan.
Jansen speel vir Highlanders-netbalklub en is in die finale oefengroep vir die Telkom Nasionale Liga (TNL).
Sy kyk op na Protea-kaptein Bongiwe Msomi en het ook al die geleentheid gehad om saam met haar te oefen.
Wat wil sy graag in die toekoms bereik?
“As ’n speler wil ek my droom volg om ’n buitemuurse Protea-speler te wees. As ’n afrigter by Laerskool Concordia of by my netbalkliniek, Fullsterkur Netbal Kliniek, wil ek die liefde wat ek vir die sport het by ander kweek.”
Glo Jansen daar word genoeg gedoen om vrouesport te bevorder?
“Op die oomblik doen ons almal die beste van ons vermoë om vrouesport te bevorder. Elke jaar is dit beter. Elke dogter en vrou moet nie opgee om hulle droom in hulle sport te volg nie.”
ALSO READ: Netball team in need of a netball kit
ALSO READ: Twizza pins their sponsorship colours to netball goal posts



