Valke kanselleer klubrugby-liga vir 2021
Die Advertiser het met belanghebbendes van die plaaslike klubrugbyspanne, East Rand United (ERU) en Makopano Boksburg Rugbyklub, gesels om uit te vind hoe hulle voel oor die stand van sake.
Dit blyk of plaaslike klubrugbyspelers eers weer volgende jaar sal terugkeer na die rugbyveld aangesien die Valke-rugbyunie op 27 Julie aangekondig het dat sy klubrugby-liga vir 2021 gekanselleer is weens Covid-19.
Valke rugbybestuurder Gesie van der Merwe het ook aan die Advertiser bevestig dat hierdie jaar se seisoen opgeskort is.
Die Advertiser het met belanghebbendes van die plaaslike klubrugbyspanne, East Rand United (ERU) en Makopano Boksburg Rugbyklub, gesels om uit te vind hoe hulle voel oor die stand van sake.
ERU voorsitter Marius de Vos het gesê: “Die derde vlaag van die pandemie het klubrugby tot ’n stilstand gebring. Ek het verwag dat die uitvoerende komitee die klubrugby-liga vir die res van die seisoen sou kanselleer.
“Covid-19 het ’n uiters negatiewe impak op klubrugby gehad die afgelope twee seisoene. Die opskorting van die seisoen gee die klubbestuur meer tyd om behoorlik te beplan vir die 2022 seisoen, maar die kwynende ekonomiese groei maak dinge nie makliker op die finansiële front nie.
“Ons klub is op die stadium die enigste Peregrine-span wat nie ’n borg of finansiële hulp het nie. Ek wil graag ’n beroep doen op besighede in die Boksburg omgewing om ERU finansieel te ondersteun.
“Die klub bied jong manne regoor kleurgrense ’n geleentheid om sport te beoefen en nasiebou te verwesenlik.
“Ek wil ook vir Ettiene Barnard, die eienaar van Paintworx, bedank vir sy onbaatsugtige bydra in die vorm van ’n kragopwekker sodat die klub ten minste kon oefen.”
Kaptein van die Makopano Boksburg Rugbyklub Henry Pike het gesê: “Ek het gehoop dat ons hierdie jaar weer sal kan speel. Dit is vir ons as klubrugbyspelers verstreurend om nie te kan speel nie. Ons het werklik ’n goeie span en vir die afgelope twee jaar word ons seisoen kortgeknip voordat dit werklik kon begin.
“Ons het so ’n paar opwarmingswedstryde gespeel en een liga-wedstryd voor alles weer gestop is. Dit is veral ’n uitdaging om ouens fiks en gemotiveerd te hou.
“Rugby is nie net vir ons as spelers belangrik nie, maar ook vir die klub se ondersteuners en die mense van Boksburg. Dit was vir ons almal iets om na uit te sien om op Saterdae te speel. Die mense, die atmosfeer, die gesels en lag na die tyd as almal saam braai is altyd lekker.”
ALSO READ: Boksburg seëvier teen ERU in Valke Peregrine-liga openingswedstryd
ALSO READ: The rise of the Valke



