‘n Wedstryd opgedra aan ‘n geliefde afrigter
Boksburg Rugbyklub gaan nou fokus op hul wedstryd teen Benoni.
Emosies het hoog geloop by Prince George Park op 25 Junie waar Boksburg Rugbyklub en Vereeniging mekaar die stryd aangesê het in ‘n Valke Peregrine-ligawedstryd.
Dit is omdat die Uile in rou is ná sy hoofafrigter van die eerstes, Lukas van der Schyff, op 23 Junie skielik in die ouderdom van 47, vermoedelik weens ‘n hartaanval, oorlede is.
Voor die fluitjie geblaas is vir die wedstryd om te begin was daar ‘n minuut se stilte gehou om hulde te bring aan die geliefde afrigter. Verder is daar ook drie nommer agt truie, die posisie wat Lukas gespeel het, langs die veld neergelê.
Die nuus van Lukas se afsterwe het ook ’n negatiewe invloed gehad op die span se vertoning en het hulle met 64-0 verloor.
“Die manne se koppe was elders en Vereeniging het baie goed gespeel. Ek dink hulle staan ‘n goeie kans om die liga die jaar te wen.
“Ons fokus nou op die komende naweek (2 Julie) se wedstryd teen Benoni op hulle velde.”
Verder het die Uile se o21-span ook ’n slegte dag op kantoor gehad en het 31-7 verloor. Boksburg se tweedespan het ook gesukkel om die mas op te kom en het met 25-75 verloor.
Dit is in hierdie stadium nog nie bekend wie die leisels by Lukas gaan oorneem nie.
Lees Ook: Boksburg Rugbyklub rou na afrigter se afsterwe
Lees Ook: Boksburg Rugbyklub vier oorwinning





