Sport

Boksburg seevier oor Kempton Park se wolwe

Die Uile berei nou voor vir wegwedstryd teen Elsburg Rugbyklub op 21 Junie.

Die Boksburg Rugbyklub het op 14 Junie hul eerste oorwinning van die seisoen behaal met ’n indrukwekkende 52–7 sege oor Kempton Park in ’n tuiswedstryd van die Valke Merlinliga by Prince George Park.

Die Uile het van die eerste afskop af beheer geneem en met rustyd reeds ’n gemaklike voorsprong van 24–0 opgebou.

JJ Marais, Boksburg se binnesenter, was die uitblinker van die dag en het drie keer agter die pale gekuier.

Klubvoorsitter Hendrik Harmse is tevrede met die vertoning en het die span geprys vir hul toewyding en verbeterde spel.

“Oor die algemeen is ons baie gelukkig met vandag se vertoning. Daar is nog baie werk wat voorlê, maar ons beweeg in die regte rigting. Ons het die eerste helfte oorheers. In die tweede helfte het ons ‘n paar goedjies laat gly, maar daar is altyd ruimte vir verbetering.”

Span het ondersteuning nodig
Vir Boksburg is hierdie oorwinning meer as net punte op die punteleer – dit is ‘n simboliese stap in ‘n groter bouproses.

“Dis ’n lang proses. Daar is ’n pad wat vir ons voorlê, en ons gaan dit goed stap. Ons moet nou bou. Dis ’n driejaarproses waaraan ons werk om terug te kom na die boonste liga. Ons glo ons sal daar kan uitkom.”

Harmse het ook ‘n beroep gedoen op die gemeenskap om betrokke te raak en die klub te ondersteun.

“As enigiemand op enige manier betrokke wil raak, is hulle baie welkom. Ons het hande nodig om van die klub ’n sukses te maak. Finansies bly ook ’n uitdaging. Dit sal help as ons finansiële hulp van besighede kan kry.”

Hy beklemtoon dat Boksburg Rugby een van die oudste rugbyklubs in die Oos-Rand is en dat plaaslike ondersteuning noodsaaklik is om die nalatenskap van die klub voort te sit.

Lees Ook: Owls at the foot of the table in the Valke league

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Boksburg Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button