Hartklop vou emosie oop met nuwe enkelsnit
Hartklop se klank het ontwikkel van diep, introspektiewe ballades tot ’n styl wat breër aanklank vind.
As liefde ’n vou in tyd is, vou Hartklop dit oop in hul nuwe enkelsnit, Gekreukel.
Met ’n klank wat soos ’n warm briesie uit die 80’s waai, gemeng met moderne pop-energie, bring die Boksburgse musiekgroep weer ’n storie wat reguit na die hart mik.
Dié lied vertel van twee mense wat mekaar liefhet en mis, maar nie altyd weet hoe om oor die emosionele afstand tussen hulle te kom nie.
In ware Hartklop-styl is die snit tegelyk speels én eerlik – ’n balans van glimlag en heimwee wat perfek vasvang hoe dit voel wanneer liefde nie eenvoudig is nie, maar steeds eg bly.
Met ’n unieke klank wat moderne pop met ’n tikkie 80’s-nostalgie meng, het Gekreukel ’n vars dog bekende gevoel. Die lied is geskryf deur Cornel Viljoen en Zanneli Casey, die kreatiewe duo agter Hartklop, wat hul merk op die Afrikaanse musiektoneel maak met hul eiesoortige benadering tot lirieke en melodieë.
“Dit was een van daardie oomblikke waar alles net kliek en jy besef: hierdie lied móét die wêreld sien,” het Cornel vertel.
Vir Zanneli is Gekreukel ’n herinnering dat liefde nie altyd eenvoudig is nie: “Dis soms verward, soms seer, maar altyd eg.”
Die musiekvideo, vervaardig deur Dee Collective Productions, speel af in ’n skooltoneel en fokus op jongmense wat aangemoedig word om hul drome te volg. Hartklop glo in musiek se vermoë om te inspireer, veral onder die jeug.
Na die sukses van vorige treffers soos Probeer en Briewe, is Gekreukel deel van Hartklop se plan om hul bereik verder uit te brei. Daar is reeds optredes by bekende feeste soos KKNK en Aardklop in die pyplyn, asook die beplande vrystelling van ’n nuwe EP vroeg in 2026. Hul klank het ontwikkel van diep, introspektiewe ballades tot ’n styl wat breër aanklank vind – sonder om egtheid prys te gee.
Meer oor Hartklop se lede
Cornel Viljoen (35) is ’n ervare musikant en liedjieskrywer van Boksburg met meer as 18 jaar ondervinding in die bedryf. Sy liefde vir musiek het reeds op 14 begin in ’n hoërskoolsaal, en vandag is die verhoog steeds sy tuiste.
Min weet van sy liefde vir toneelspel, terwyl sy musikale invloede wissel van Spoegwolf tot Blink-182. Een van sy gunsteling lirieke, geskryf deur Laurika Rauch, lui: “En eindelik was almal maar net kinders van die wind.”
Zanneli Casey se musikale pad het begin by ’n eenvoudige kitaarles saam met haar ma, en vandag bring daardie beginpunt haar tot in sommige van Suid-Afrika se bekendste ateljees, insluitend Mango Groove se ou ruimte. Buiten haar liefde vir musiek, het sy ’n groot passie vir diere, en sou moontlik by ’n wildskuiling gewerk het as sy nie gesing het nie.
Sy hou van 80’s-musiek, Paramore en Ariana Grande, en haar gunsteling-aanhaling kom van Bob Marley: “One good thing about music, when it hits you, you feel no pain.”
Met Gekreukel wys Hartklop weer hoekom hul naam sin maak – musiek wat direk die hart tref.
Lees Ook: KYK: Ravenswood se Hartklop maak opslae in musiekbedryf
Lees Ook: Plaaslike duo wil hoop bring met nuwe ballade



