Brakpan inwoner (90) se lewensreis getuig van geloof en dankbaarheid
Monica se liefde vir kuns het gesorg dat sy ‘n groot vriendekring opgebrou het.
Monica van Coller Triegaardt, ’n jarelange inwoner van Brakpan, het op 11 Oktober haar 90ste verjaardag gevier.
Oor nege dekades het sy talle kosbare herinneringe versamel, ’n liefde vir onderwys en kuns uitgeleef en, bowenal, ’n diep geloof in die Here behou.
Haar lewensverhaal getuig van dankbaarheid, geloof en die besondere seën van familie en vriendskap.
“Die pragtige stadsaal met sy tuine het Brakpan die mooiste dorp aan die Oos-Rand gemaak, ten spyte van die vlak dam met die brakwater,” vertel sy.
Sy het in Brakpan skoolgegaan en haar daarna as onderwyser bekwaam. Sy het vir baie jare in Johannesburg en Brakpan skoolgehou.
Ná haar aftrede het Monica verskeie kunskursusse voltooi en daarna vir 20 jaar kunsklasse by haar huis aangebied.
OOK LEES: Two robbers behind bars thanks to Brakpan detective’s sterling investigation
“Dit was vir my ’n absolute fees en met verloop van tyd het die kunsklasse daartoe gelei dat ek 340 nuwe vriende ontmoet het,” vertel sy.
Monica noem ook dat die belangrikste gebeurtenis in haar lewe was toe sy op 12-jarige ouderdom haar lewe aan die Here gegee het.
“Daar het ’n groot blydskap oor my gekom, asook die begeerte om die Bybel te lees,” vertel sy.
Sy is tans ook die medeleier van ’n senior Bybelstudiegroep en beskou dit as ’n voorreg.
“Die Here het my deur die 90 jaar van my lewe bewaar, selfs deur baie moeilike tye. Ek is ook geseën met drie kinders, vyf kleinkinders en sewe agterkleinkinders.”
OOK LEES: Brakpan weekend crime round-up: Hijackers target motorcyclist and passenger in Dalpark



