
Chalaine Bester het absoluut geen idee gehad dat sy aan die einde van die skooldag met so ‘n groot geskenk in haar hand gaan sit nie.
Selfs haar ma, Mari, is eers enkele ure voor die bekendmaking van die nuus na die skool ontbied om in haar dogter se vreugde te deel.
Die studiebeurs is moontlik gemaak deur ‘n projek wat deur die sangeres en ambassadeur van LifeLine, Anaïs gedryf word.
Die `Be Your Dream’-projek het 13 skole uit 4000 in die provinsie gekies om elk ‘n leerder te identifiseer om in aanmerking vir ‘n studiebeurs te kom.
Die projek gaan deel vorm van ‘n realiteitsprogram wat later vanjaar in 13 episodes op kykNET uitgesaai sal word.
Groot opgewondenheid het Maandag by die skool geheers toe ‘n reuse verhoog reeds van vroeg af op die hokkievelde opgerig is.
Die leerders het besef daar dat iets aan die broei was maar die hele bekendmaking en verfilming daarvan is tot op die nippetjie ‘n groot geheim gehou.
‘n Kameraspan het die dag se gebeure op film vasgelê en dit sal nou verwerk word vir om een van die 13 episodes uit te maak.
‘n Woordvoerder van die skool het verduidelik dat die skool genader is deur die `Be your Dream’-projek en dat daar besluit is om die geleentheid aan te gryp.
“Ons is in ‘n posisie geplaas waar ons een van ons leerders kon help en ons wou dit beslis nie deur ons vingers laat glip nie,” het die hoof van die skool Koos Boshoff gesê.
‘n Groepie kinders is aanvanklik deur die skool geïdentifiseer en hulle moes ‘n hul toekomsdrome op pen en paier vaslê.
Hierna is Chalaine Bester gekies om die beurs van The Academy of Sound Engineering te ontvang.
“Ek het regtig nie gedink dit sou ooit met my gebeur nie maar drome word tog waar,” het sy gesê.
Haar ma, Mari wat saam met haar op die verhoog was toe sy haar beurs ontvang het, het Dinsdag aan die Herald gesê dat hulle ongelooflik dankbaar is.
“Ek het nog altyd my kinders geleer dat hulle hard moet werk om hul drome waar te maak en Chalaine doen presies dit.”
“Ons is ongelukkig nie in ‘n posisie om haar verder te laat studeer nie en sy sou na skool eers moes gaan werk en moontlik deeltyds studeer,” het Mari gesê.
“Nou het alles verander en ons is in die wolke,” het sy bygevoeg.
Chalaine beplan om `song writing’ en `sound engineering’ te studeer en sy kan nie wag om te begin nie.
“Dit was vir ons as skool ‘n baie groot voorreg om deel te kon wees van hierdie projek en ons wens vir Chalaine baie voorspoed toe,” het Boshoff gesê.