Plant groei welig na vrou se dood
‘n Inwoner van Hastingslaan se hartseer oor die dood van sy vrou, in 2012, word elke dag ietwat draagliker gemaak danksy twee plante, wat welig in sy tuin groei.
Johan Lange (62) het onlangs aan die Herald gesê dat dit vir hom ‘n bitter moeilike dag was toe sy vrou, Isabel (63), op 21 April, 2012, na ‘n stryd met kanker, oorlede is.
Hy word egter elke dag aan haar herinner, danksy twee plante wat hy vir haar gekoop het, toe sy in ‘n hospitaal in Springs behandel is, voor haar dood.
“Isabel was baie lief vir proteas en ek het vir haar twee kleinerige plante gekoop en na die hospitaal geneem,” het Johan vertel.
“Ek wou nie net ‘n ruiker koop nie, want die blomme gaan dood en Isabel was baie dankbaar vir die plante wat langs haar hospitaabed gestaan het.”
Sowat twee weke nadat Johan vir haar die plante na die hospitaal geneem het, het sy gesterf.
“Ek het besluit om die plante in my tuin te plant. Ek het nie veel hoop gehad nie, want ek glo nie dit is maklik om ‘n protea in ons klimaat aan die groei te kry nie.”
“Maar dit is net asof daardie plante besluit het om ‘n huldeblyk aan my vrou te wees. Altwee het doodeenvoudig nie ophou groei nie en al verskeie kere blomme gedra,” het Johan gesê.
“Wanneer ek die plante sien dink ek aan my Isabel. Ek het dit met baie, baie liefde vir haar gegee en met net soveel liefde geplant.”



