Ma-kat maak ‘n plan toe storm woed
Die hewige storm wat verlede Maandagaand gewoed het, het veroorsaak dat ‘n gesin van Escombelaan se diere-familie oornag aansienlik uitgebrei het.
Elsebe Shortridge het Dinsdagoggend gedink sy hoor verkeerd toe sy die gemiaau van klein katjies hoor, maar met nadere ondersoek het sy gou agterkom dat sy reg gehoor het.
“Ons het twee twee katte en ons laat snags ‘n skuifdeur op ‘n skrefie oop sodat hulle kan kom en gaan,” het Elsebe vertel.
“Ek het Dinsdagoggend na die spaarkamer gegaan, waar ek die gemiaau gehoor het, en tot my verbasing ‘n vreemde ma-kat en haar vier kleintjies op die spieëlkas aangetref.”
“Sy moes gedurende die nag, met die hewige storm, haar kleintjies een vir een in die huis in gedra het.”
“Ons is groot diereliefhebbers en ek dink die kat het geweet om ons huis te kies,” het Elsebe se man, Frank, gesê.
“Die ma-kat was baie honger en dors. Sy het twee bakkies kos gulsig opgeëet en baie melk gedrink voordat sy haar weer by haar kleintjies gaan tuis maak het,” het Elsebe vertel.
“Ons kan ongelukkig nie al katte hou nie, maar ons oorweeg dit beslis om een van die kleintjies te laat bly.”
Intussen bly die ma-kat en haar vier katjies, wat sowat 14 dae oud is, veilig in die Shortridge woning en word sy lekker bederf.



