Editor's choiceLocal newsNews

Egpaar leef in vrees

‘n Egpaar van Withok leef deesdae in vrees en sonder ‘n heenkome, nadat hulle eiendom sedert September, verlede jaar, drie keer die teiken van brandstigters was

Richard (51) en Elizabeth (51) Goliath het so te sê al hul aardse besittings in die drie aanvalle verloor en woon tans in vriende se huis in Geluksdal, aangesien die huis waarin hulle vier jaar gebly het totaal verwoes is.

Die egpaar, wat in Rademanstraat, Withok, woon se nagmerrie het op 29 September begin, toe ‘n persoon of persone die groot grasdaklapa, wat aan hul huis gegrens het, aan die brand gesteek het.

“Ons was vas aan die slaap toe ons om ongeveer 1vm wakker geskrik het en besef het dat die huis aan die brand was,” het Richard vertel.

Volgens hom het die brand baie vinnig versprei en die lapa, asook die groot huis, is gou deur die vlamme verswelg.

“Ons kon darem ons voertuie uit die motorhuis kry voordat dit ook gebrand het,” het Richard gesê.

Die skade wat aangerig was, was enorm en die Goliaths is met bitter min persoonlike besittings gelaat.

“Op dié stadium het ons nog nie veel onraad vermoed nie, alhoewel dit vir ons ‘n groot raaisel was oor hoe die lapa aan die brand kon raak,” het Richard gesê.

Die egpaar,wat twee kinders (vier en ses jaar) in pleegsorg het, het na die brand hul intrek in ‘n groot motorhuis, wat nie erg beskadig is nie, geneem, terwyl herstelwerk aan die huis begin is.

Op 30 November het die booswigte egter weer toegeslaan en iets, wat soos ‘n petrolbom gelyk het, in Elizabeth se Mercedes Benz gegooi.

“Ons het gelukkig wakker geword van die honde se geblaf en, toe ons ondersoek instel, het ons gesien dat die motor brand,” het Richard gesê.

Hy kon die brand vinnig onder beheer bring en die skade aan die voertuig was nie te groot nie.

“Op die stadium het ons erg bekommerd geraak oor ons veiligheid, maar ons het nie veel van ‘n keuse gehad as om te bly waar ons gebly het nie,” het hy vertel.

Die egpaar het gedurende Desember gaan vakansie hou en intussen is ‘n slaapvertrek en ‘n badkamer in die afgebrande huis heeltemal gerestoureer.

“Ons ouer seun, Ramon (24), het in die motorhuis, waarin ons tydelik gewoon het, kom bly om die plek vir ons op te pas,” het Richard gesê.

Die Goliaths se vakansie het egter suur uitgedraai toe hulle op 16 Desember die tyding kry dat daar weer ‘n aanval op hulle huis was.

“Dié keer het die aanvallers seker gemaak dat hulle die vertrek en badkamer, wat reeds gerestoureer was, heeltemal afbrand; die garage, wat ons tydelike blyplek was, is ook geteiken en so ook ons karavaan en Elizabeth se Mercedes, wat ons die eerste keer kon red,” het Richard vertel.

“Dit was vir ons ‘n groot slag, aangesien ons nie assuransie op die huis het nie en reeds geld moes spandeer om dit te begin opbou.

“Dit is nou vir ons baie duidelik dat iemand daarop uit is om ons van die perseel weg te dryf, maar dit maak vir ons geen sin nie.”

Richard het al drie voorvalle by die SAPD aangemeld en aanvanklik besluit om nie te veel oor die insidente te praat nie.

“Ek en Elisabeth het egter nou besluit om nie langer stil te bly nie; daar is ‘n persoon of persone daar buite wat vir ons baie groot skade en hartseer berokken het,” het hy vertel.

“Ons hoop dat iemand iets gesien het, of inligting het wat daartoe sal lei dat ons die skuldige of skuldiges kan vastrek.”

Die egpaar meen dat hulle nie vyande het nie en dat die aanvalle op hul huis ‘n groot vraagstuk is waarmee hulle worstel.

“Ons het wel by vorige geleenthede kerkdienste in ons lapa aangebied, en ek is nie seker of dit enigsins ‘n verband hou met die aanvalle op ons nie,” het Richard gesê.

Die egpaar is weer besig om ‘n gedeelte van hul huis leefbaar te maak.

“Ons sal weer terug kom en dië keer sal ek die sekuriteit verskerp en ons sal maar doen wat ons moet doen,” het Richard gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button