Local newsNews

Vier-jarige se ma se slim plan werk: kry hondjie terug

‘n Vier-jarige seuntjie se hartseer het onlangs in groot vreugde verander, toe ‘n persoon wat sy hond opgelaai het, dit aan hom terug besorg het.

Nadat die persoon Tiaan Jacobs se hond opgelaai het, het sy ma, Riana, ‘n plakaat gemaak en dit op hul hek aangebring in die hoop dat die persoon dit sou sien en reageer.

Die plakaat het gelees: “Kan die oom met die swart bakkie asb my hondjie terug bring? Baie dankie. Tiaan.”

Die plan het gewerk, want Tiaan en sy hond is die volgende dag herenig.

Tiaan en Riana, wat in Dalview woon, se kopseer het voor verlede week begin toe hulle laat die middag gou na ‘n naby geleë kafee gegaan het.

“Tiaan het ‘n vier weke oue Labrador gekry en hy was gaande oor die hond,” het Riana vertel.

“Terwyl ons by die kafee was het die hondjie op een of ander manier by ons erf uitgekom en was dit blykbaar in die straat.

”Ons woon naby ‘n kleuterskool en een van die onderwysers het ons toevallig by die kafee raakgeloop en gesê sy het gesien hoe ‘n man, wat ‘n swart bakkie bestuur het, stilgehou het en Tiaan se hondjie opgelaai het,” het Riana vertel.

“Ons is huistoe en daar was inderdaad geen teken van die hond nie; Tiaan was ongelooflik hartseer en hy kon nie verstaan dat iemand sy hondjie gevat het nie.”

Riana het ‘n groot plakaat gemaak, wat sy die volgende oggend op die hek aangebring het.

Sy het ook op Facebook gevra dat die persoon tog Tiaan se hondjie sal terugbring.

“Ons vreugde was baie groot toe ‘n man die volgende dag by ons huis stilhou en Tiaan se hondjie terug gee. Ons was nie tuis nie maar die man het die hond aan my ma, ook Riana besorg.”

“Tiaan was heeltemal buite homself van vreugde toe sy hondjie weer veilig by die huis is,” het Riana gesê.

“Ek is steeds nie seker wie die persoon is nie, en ek glo dat hy die hondjie net opgelaai het omdat dit in die straat was.”

”Ek is baie dankbaar dat hy die hond terug gebring het; Tiaan was regtig baie ontsteld.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button