Local newsNews

Dief gryp asblik en hol weg

Die nuwe munisipale vullisblikke, wat tans deur die metro aan inwoners beskikbaar gestel word, lei tot groot ergernis.

Benewens die feit dat inwoners nie behoorlik ingelig is oor die proses nie, het ‘n nuwe tendens nou kop uitgesteek.

Die vullisblikke word voor die voet gesteel.

Hetta Bruwer, wat op die hoek van Olga- en Lappingstraat, in Brenrhust, woon, is Maandag haar vullisblik kwyt nadat ‘n dief dit voor haar dogter, Maryke Harris, se oë gesteel het.

“Ek het vir Maryke gesê om nie die vullisblik op die sypaadjie te laat nie, totdat sy die vullisverwyderingsvoertuig hoor of sien aankom nie,” het Hetta gesê.

“Die voertuig ry eers in Olgastraat op en kom dan in Lappingstraat af, waar ons hek is.

“Toe Maryke dit hoor het sy die vullisblik en ‘n paar sakke buite op die sypaadjie geplaas.

“Haar tweejarige kleintjie, Cheronique, was by haar en sy het weer in die erf beweeg en die hek met die afstandbeheer toegemaak.”

Volgens Hetta het ‘n man wat bottels en ander items bymekaar gemaak het nader beweeg en in die vullisblik begin grou.

“Die volgende oomblik het hy, ten aanskoue van Maryke, die blik gevat en laat spaander,” het sy gesê.

“Maryke kon nie agter hom aanhardloop nie, aangesien sy die kleintjie by haar gehad het.

”Hy is dus vort met ons vullisblik en ons sal waarskynlik nou moet opdok vir ‘n ander een.

“Die vraag is net: met hoeveel ander mense gebeur dit, en hoe gaan die probleem hok geslaan word?”

‘n Inwoner van Hoogenhoutstraat het voor verlede Maandag ook ‘n nuwe vullisblik uitgesit, wat binne minute soos mis voor die son verdwyn het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button