CrimeNews

Goeie sekuriteit hou diewe nie uit nie

‘n Besigheid in Anzac was verlede Donderdag vir die soveelste keer die teiken van diewe en plunderaars.

Tydens die voorval, wat Donderdag, in die vroeë oggendure, plaasgevind het, is ‘n sekuriteitswag ook deur die diewe aangeval en is hy, met kopbeserings, in die hospitaal opgeneem.

Die bestuurder van Cover All Hardware & Building Supplies, Wikus Botha (45), het vertel dat diewe Donderdagoggend, om ongeveer 4vm, 18 leë 25-liter houers oor die muur van hul besigheid gegooi het.

“Die plan was om die houers met diesel te vul, uit ons voertuie wat oornag op die perseel staan,” het Wikus gesê.

Volgens hom het dit voorheen ook al gebeur.

Hy het verduidelik dat die wag waarskynlik onraad vermoed het en drie mans op die perseel betrap het.

Die wag is deur die oortreders oorrompel en aangerand, waarna hy in ‘n sekuriteits kantoor naby die hek vasgebind is.

Die diewe het waarskynlik daarna gevlug en die 18 kanne wat hulle oor die muur gegooi het net so gelaat.

“Dit is beslis nie die eerste soortgelyke voorval nie; daar is onlangs sowat 60 liters diesel uit ons voertuie gesteel,asook batterye van die voertuie wat in die nag hier geparkeer word,” het Wikus gesê.

Dit blyk ‘n moeilike taak te wees om die skelms buite te hou. Die diewe het hul weg oor ‘n hoë palisade heining, waarop daar ook geëlektrifiserde draad aangebring is, gevind.

Die mure rondom die perseel is al aan die binnekant met staal versterk aangesien diewe voorheen die mure aan die onderkant afgebreek het, om toegang tot die perseel te verkry.

Die elektrisie heining is Donderdagoggend op ‘n manier platgedruk, sodat die booswigte kon oorklim.

Wikus het gesê dat die toenemende aantal voorvalle onrusbarend is.

“Ons doen al vir baie jare besigheid vanaf die perseel en ‘n mens weet nie meer watter maatreëls om te neem om jou eiendom te beskerm nie,” het hy gesê.

Die sekuriteitswag is in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem, waar hy vir kopwonde behandel is.

Die voorval word deur die SAPD ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button