Benoude oomblikke toe tiener meisies in Brakpan-sentraal uitgelok word
Die tieners het weggehardloop toe een van die insittendes uitgeklim en na hulle toe beweeg het.
Twee tienermeisies wat Saterdag net ’n bietjie bene wou rek, het benoude oomblikke beleef toe hulle deur die insittendes van ’n wit bakkie in Brakpan-sentraal gekonfronteer is.
’n Motoris wat die insident aanskou het, het waarskynlik tot die twee 14-jarige meisies se redding gekom. Een van die tieners se 43-jarige pa het aan die Herald gesê dat hy die voorval deel om ander mense te waarsku.
Almal se name word op versoek weerhou.
“My dogter se vriendin, wat net om die draai van ons huis in Hamiltonlaan woon, het die naweek by ons gekuier.
“Saterdagmiddag het hulle my gevra of hulle net ’n entjie kan gaan stap om bene te rek en vars lug te kry,” het die pa vertel.
“Ek het toestemming verleen en hulle gemaan om nie ver van die huis af te beweeg nie en op plekke te stap waar dit besig is.”
Volgens die pa het die meisies in Gordonlaan gestap toe ’n wit Nissan-bakkie langs hulle stilgehou het.
Die insittendes het die tieners aangemoedig om in die bakkie te klim en onder meer die woorde “Come on, chiquitas” gebruik.
“Een van die mans het, volgens my kind, ook uitgeklim, waarna die kinders probeer weghardloop het,” het die pa vertel.
Volgens die tieners het ’n ouer persoon op daardie stadium verbygery en waarskynlik gesien wat aan die gang was.
Die man het stilgehou, waarop die insittendes van die wit bakkie vinnig die wyk geneem het.
OOK LEES: Goods confiscated for by-laws contravention during EMPD operation in Brakpan
“My dogter, wat op daardie stadium baie paniekerig was, het my vrou gebel. Omdat dit naby ons huis was, het ons ons na die kinders gehaas.
“Ek glo dat dieselfde bakkie op daardie stadium by ons verbygery het, maar ek was toe nie bewus daarvan dat dit die persone was wat ons kinders geteister het nie.
“Ons is baie dankbaar teenoor die persoon wat stilgehou het, aangesien dinge baie lelik kon uitdraai. Ons is veiligheidsbewus, en ’n mens verwag ook nie dat jou kinders helder oordag, naby jou huis, die teiken van booswigte sal word nie,” het die pa gesê.
“Ons huis is naby ’n laerskool geleë, en ons sien daagliks hoe jong kinders alleen van en na hul ouerhuise stap. Ons kinders het die reg om veilig te wees.
“Die voorval het albei die kinders getraumatiseer. Die gevolg is ook dat dit nou vir my kind verbode is om alleen in die woonbuurt rond te loop,” het die pa gesê.
OOK LEES: FOLLOW-UP: Snake Road sinkhole still awaits repairs despite June deadline



