Motoris stamp tieners en ry weg
Twee tieners is Vrydagmiddag beseer toe die motorfiets waarop hulle gery het hulle deur ‘n motoris, wat daarna weggery het, raakgery is.
Wesley Henning (16) en sy vriend, Ruben Bester (14), was om ongeveer 6.50nm op pad na Pick n Pay, in Sherwood Gardens, toe hulle deur die bestuurder van ‘n rooi Toyota Hilux dubbelkajuit bakkie gestamp is.
Die bestuurder het daarna bloot weggery sonder om stil te hou, ten spyte van die feit dat beide die seuns beseer is.
“Daar was ooggetuies wat gesien het dat die persoon dadelik weggery het en nie eens ‘n poging aangewend het om stil te hou nie,” het Christa Botha, Wesley se ma, gesê.
Ruben het die slegste daarvan afgekom en is met ‘n gebreekte been, asook rug- en nekbeserings in die hospitaal opgeneem, waar hy, teen druktyd, steeds aangesterk het.
Volgens Christa was Ruben se ouers vir die lang naweek weg en moes hulle terug keer om die nodige mediese behandeling vir hulle seun te reël.
“Ons het die geel Suzuki 125cc motorfiets slegs sowat ‘n week gelede nuut vir Wesley gekoop,” het Christa gesê.
“Dit is baie kommerwekkend dat die persoon bloot weggery het ten spyte van die feit dat hy of sy ‘n fout begaan het en dat twee kinders beseer is.”
Die voorval is by die SAPD aangemeld en word ondersoek.
Enigiemand wat die ongeluk sien plaasvind het, of meer inligting oor die identiteit van die bestuurder kan verskaf, kan vir Christa by 083 346 0142 kontak.



