Local newsNews

Gesin verloor byna alles in brand

‘n Gesin van Dalview het Woensdagaand meeste van hul persoonlike besittings verloor, nadat ‘n brand in een van die kamers van hul huis ontstaan het.

Alet en Hennie Pieterse, wat by hul seun, Armand, en skoondogter, Anita Brits, in die huis in Hendrik Potgieterstraat woon, het basies net die klere, wat hulle aangehad het, oor.

Die brand het in Alet en Hennie se slaapkamer uitgebreek en benewens verbete pogings om dit te blus, het daar niks bruikbaar in die kamer oorgebly nie.

Alet vertel dat sy, Armand en Anita Woensdagaand in die kombuis was, pas nadat hulle klaar geëet het.

“Hennie het gaan bad en my twee kleinkinders, Llewellyn (4) en Wylen (3), het televisie in die sitkamer gekyk,” het sy vertel.

“In die kombuis het Armand vir my gesê dat hy iets ruik, soos plastiek wat brand. Ons het nog gekyk of die stoof af is, waarna Armand na die sitkamer geloop het.

“Toe ek in die sitkamer kom het die ligte geflikker en afgegaan en die hele huis was toe reeds in rook gehul,” het Armand gesê.

Hy het vir almal geskreeu om uit die huis te gaan en Hennie, wat steeds in die bad was, het ook besef dat daar groot fout was.

Armand het ‘n brandblusser, wat in die motorhuis was, gegryp en deur die kamervenster probeer om die vlamme te blus.

“Ons het ook ‘n tuislang opgekoppel en gelukkig is die waterdruk sterk en kon ek die vlamme in die kamer na ‘n gesukkel geblus kry,” het Armand gesê.

Volgens Alet het hulle die nooddienste gekontak en het die bure, asook mense wat daar verby gery het, almal oproepe na die nooddienste gemaak.

Lede van die Ekurhuleni Nooddienste het glo na ongeveer 40 minute, nadat die vuur onder beheer gebring is, by die huis aangekom.

Behalwe vir die totale verwoesting in die slaapkamer is enorme rookskade reg deur die huis aangerig. Gordyne, klere, matte en beddegoed is onherstelbaar verniel.

“Ons kinders kan nog ‘n plan maak en tydelik hul intrek in ‘n tuinwoonstel op die perseel neem, maar ek en Hennie is basies huisloos,” het Alet gesê.

“Dit sal van baie groot hulp wees as ons tydelik ‘n karavaan kan leen, wat ons hier in die erf kan gebruik,” het Alet gesê.

Al hul klere is ook verbrand. Alet het Donderdagoggend klere van haar skoondogter aangehad en hulle moes noodgedwonge vir Hennie gaan klere koop, sodat hy kon gaan werk.

“Ons selfone, bankkaarte en identiteitsdokumente het ook in die slag gebly,” het Alet gesê.

Die Herald het ‘n navraag aan die Ekurhuleni Nooddienste gestuur oor die bewering dat die brandweer lank geneem het om op te daag. Sodra dit ontvang word sal dit gepubliseer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button