Editor's choiceLocal newsNews

Vriendelike mans besteel bejaarde

‘n 84-Jarige inwoner van Kitzingerlaan het Saterdagoggend ‘n groot kans gewaag, toe sy twee vreemde mans in haar erf toegelaat het.

Die vrou, wat versoek het dat haar naam nie gepubliseer moet word nie, sê dat sy eers na die tyd besef het dat sy ‘n kans gewaag het.

“Die twee mans was egter so oortuigend en ordentlik, dat ek nie vir een oomblik onraad vermoed het nie,” het sy gesê.

“Ek sit gewoonlik buite op my stoep en die voordeur was oop.”

Volgens haar het die twee by haar hek opgedaag en het sy gesê dat hulle kan inkom.

“Hulle het boekies by hulle gehad en my uitgevra oor my geloof. Ek het geen rede gehad om onraad te vermoed nie,” het sy vertel.

“Die een man het op ‘n stadium weg beweeg en by die voordeur ingegelip, terwyl ek en die ander een nog gesels het.”

Die twee vreemdelinge is na sowat ‘n halfuur daar weg.

“Ek het in die huis gegaan en opgemerk dat R300 wat op my Bybel gelê het nie meer daar was nie,” het die vrou gesê.

“By verdere ondersoek het ek agtergekom dat daar van my juwele ook weg was.”

Volgens die vrou was die een man redelik groot gebou en die ander een kleiner.

“Hulle was netjies aangetrek en baie vriendelik,” het sy bygevoeg.

Kapt Joep Joubert, van die Brakpan SAPD, het gesê dat almal (nie net vroue en bejaardes nie) op hul hoede moet wees.

“Dit is nie ‘n goeie idee om vreemde mense op jou perseel toe te laat nie,” het hy gewaarsku.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button