Local newsNews

Bekende sakeman oorlede

‘n Bekende sakeman van die dorp is onlangs, na ‘n kort stryd met kanker, oorlede.

Tienie Willemse (71) het vir baie jare sake op die dorp en omgewing gedoen en was ‘n bekende gesig wat altyd reggestaan het om te help.

Hy het in 1974 sy besigheid, Armature Winders, in Stasieweg, saam met ‘n vennoot, JR Verster, gestig.

In 2001 het hy die alleeneienaar van die besigheid geword en die naam verander na Seekat Enterprises (vernoem na sy huis by die see).

Willemse was welbekend onder die inwoners van die dorp, asook sakemense, en het herstewerk aan industriële- sowel as huisoudelke eleketriese motors gedoen.

Hy het ‘n enorme kliëntetal gehad en was alom bekend as die “seekat-omie”.

Hy was daarvoor bekend dat hy altyd sy werkers met menslikheid behandel het en hulle deur dik en dun bygestaan het. Sommige van sy werkers was vir solank as byna 40 jaar in sy diens.

Willemse het sedert 1972 in Eastvale, Springs, gewoon, in ‘n huis wat hy self gebou het.

Een van sy stokperdjies was visvang en hy het ook graag kitaar en mondfluitjie gespeel.

Hy het ‘n groot liefde vir die see gehad.

“Tienie was ‘n man vol wysheid en enigeen kon by hom leer; hy was altyd vriendelik en opreg en het ‘n hart van goud gehad,” het een van sy jarelange werknemers gesê.

“Die woord nee was nie in sy woordeskat nie; hy het onbaatsugtig gegee, sonder om ooit terug te verwag.”

Tienie laat sy vrou, Ansie, asook ‘n seun, Jacques, en skoondogter, Monica, na.

Die besigheid sal nou deur Jacques oorgeneem word.

Willemse se begrafnis het Vrydag, vanuit die Afrikaanse Babtiste Kerk, Brenthurst, plaasgevind.

.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button