Oud-Anker skop bal 80m ver oor die pale
Gerrie Labuschagné, ‘n oud-leerder aan Hoërskool Die Anker, het Vrydagmiddag reggekry wat baie min rugbyspelers ooit sal regkry.
Hy het in Bloemfontein, tydens ‘n oefensessie van die Vrystaate o-19 span, met ‘n stelskop van ‘n allemintige 80m geslaag.
Dié poging van Labuschagné is op video vasgelê en maak opslae op Facebook en Twitter. ‘n Spanmaat van hom het die video op YouTube gelaai en teen Dinsdagmiddag is daar reeds 74 000 keer daarna gekyk.
Volgens Labuschagné se afrigter, André Tredoux, is dit die langste stelskop wat hy nog gesien het.
Labuschagné het wel gesê dat die wind darem reg gewaai het en dat hy nie die skop daarsonder oor die pale sou kon stuur nie.
Hy het vyf keer probeer. Drie keer was die bal net-net onder deur die pale en een skop was swak.
Met sy laaste probeerslag het hy geslaag.
Die Herald het verlede jaar in Jaunarie oor Labuschagné berig, toe hy ‘n helde ontvangs op die OR Tambo Internasionale Lughawe geniet het (Gerrie bring goud terug).
Onderwysers en leerders van Hoërskool Die Anker het hul held gaan inwag.
Hy was toe deel van die Springbok o-18 sewe’s-span, wat aan die Australiese Olimpiese Jeugfees, in Sydney, deelgeneem het.
Suid-Afrika het in die finaal teen Australia gespeel en gewen, wat aan die span goue medaljes besorg het.
Kyk na die video:



