Local newsNews

Brakpan projek staan sterk in Helpende Hand-kompetisie

'n Gemeenskapsprojek uit Brakpan is goedgekeur om na die volgende ronde van die Solidariteit Helpende Hand Projek van die Jaar-kompetisie deur te dring, nadat die projek meer as 500 SMS-stemme uit die gemeenskap ontvang het.

Die Herald het vroeër vanjaar oor die projek, waarby die Onderteuningsraad betrokke is, berig (Stuur ‘n sms en help só)

In April is 27 projekte van regoor die land goedgekeur om na die tweede fase van die kompetisie deur te dring. Die projekte kon sedertdien ondersteuning vanuit hul gemeenskappe werf deurdat die publiek deur middel van SMS’e vir die projekte kon stem.

Die gemeenskap se SMS-stemme het bepaal hoeveel kapitaal Helpende Hand tot die projek se beskikking sou stel vir die drie maande lange implementeringsfase wat in Julie tot ‘n einde sal kom.

Hierdie projekte word bestuur sodat dit oor die langtermyn volhoubaar sal wees. Die evalueringsfase vind in Augustus plaas.

Die Ondersteuningsraad se Projek Sypaadjie het meer as 500 SMS-stemme vanuit die gemeenskap ontvang en daarom het Helpende Hand die projek met R45 000 befonds, wat as ‘n hupstoot in die implementeringsfase dien.

Projek Sypaadjie, onder leiding van Mona Loubser, gee daagliks vir meer as 130 behoeftiges kos in hul eetsaal.

“Die voedselnood in die area het geweldig toegeneem,” het Loubser gesê.

As deel van Projek Sypaadjie word ‘n rekenaarvaardigheidsprogram aangebied, wat behoeftiges basiese rekenaarvaardighede aanleer om hulle met werkaansoeke te help.

‘n Naaldwerkgroep is ook op die been gebring, waar dames aanvanklik opgelei word om herstelwerk te doen. Die projek sal later uitgebrei word om die items wat vervaardig word, te verkoop om ‘n groter inkomste te genereer.

Die gemeenskap kan die projek ondersteun deur hul klerasie vir herstellings te bring en ook die naaldwerktafel by die Ondersteuningsraad van Brakpan te besoek.

Helpende Hand het vanjaar die Projek van die Jaar-kompetisie geloods om deur middel van doeltreffende en volhoubare projekte R1,5-miljoen in behoeftige gemeenskappe terug te ploeg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button