65 Jaar getroud
Die dag toe Erik (89) en Diena (85) Gouws besluit het om te trou het hulle, soos enige ander egpaar, gehoop dat hul huwelik lank en gelukkig sal wees
Hulle wense en verwagtinge het beslis waar geword want vandag (Vrydag) vier hierdie egpaar iets wat nie baie mense beskore is nie.
Hulle het 65 jaar gelede getrou en, soos Diena self sê, voel dit ampertjies net soos gister.
Hul het mekaar vir die eerste keer gesien toe Diena net 17 jaar oud was.
Sy het by haar suster in Stasieweg gewoon en Erik was ook ‘n Brakpanner.
“Ek onthou ons eerste ontmoeting asof dit net nou die dag gebeur het,” vertel Diena.
Dit was op ‘n Sondag, na kerk, toe sy saam met haar ma huistoe gestap het.
“Erik het met sy fiets verby ons gery en met my ma begin gesels; ek het eers aangestap, maar my ma het my terug geroep en gesê ek moet die jong man kom groet,” het Diena vertel.
Op dié dag was die koeël deur die kerk en was dit basies die begin van hul lewe saam.
Die paar woon byna hul hele getroude lewe lank in Brakpan, waar Erik ook ‘n bekende bouer was.
Talle woonstelblokke in die dorp, onder andere Oribi Court, View Lake, Dulandi, Serenta Mews, Miller Court, Belinda Hof en Eurika is deur Erik opgerig.
Daarbenewens het hy deur die jare ook talle huise in die dorp gebou en gerestoureer.
“My dierbare man het sy hele lewe lank hard gewerk. Hy was ‘n perfeksionis in sy werk, maar hy het geniet wat hy doen,” het Diena gesê.
Die bejaarde egpaar het deur die jare baie goeie gesondheid geniet, totdat Erik verlede maand ‘n ligte hartaanval en ‘n mini-beroerte gehad het.
“Gelukkig het my man na ‘n paar dae in die hospitaal in so ‘n mate herstel dat hy huistoe kon gaan, waar hy nou aansterk,” het Diena gesê.
‘n Groot liefde van hulle was om te dans en, in 1974, het hulle met “ballroom”- dans begin.
Hulle het met dié stokperdjie aangehou tot in 2002.
“Ons het aande omgedans en selfs voor gehore in die Carlton Sentrum, Kaapstad en Port Elizabeth gedans,” het Diena vertel.
Die op en wakker vrou glo nie aan stil sit nie. Ten spyte van ‘n heupvervanging in 2008 behartig sy nog die huiswerk self en is sy steeds baie aktief.
“Die enigste ding wat ek nie kan doen nie, is om ver te loop nie,” het sy vertel.
Sy glo ook nie daarin om handjies gevou te sit en te wag dat die lewe verby gaan nie.
Haar bedrewenheid met ‘n tablet, waarop sy honderde van haar gunsteling foto’s stoor en waarmee sy nou en dan op Facebook gaan kuier, is ‘n sprekende voorbeeld van haar positiewe uitkyk op die lewe.
“Ek en my liewe Erik is baie geseënd en ons is diep dankbaar daarvoor,” het sy gesê.
Die egpaar het twee dogters, Alida du Plooy (63) en Marietjie Swanepoel (55). Hul seun, Erik, is twee jaar gelede oorlede.
Daar is ook vier kleinkinders en ses agter kleinkinders.
Volgens Diena is daar ‘n baie eenvoudige resep om ‘n huwelik gelukkig en aan die gang te hou.
“Liefde is die belangrikste. ‘n Mens moet nooit ophou liefhê nie. Jy moet ook elke dag bid en jou Skepper bedank vir dit wat jy het,” het sy gesê.



