Editor's choiceLocal newsNews

Dwaalkoeël mis ma en kind (3) rakelings

‘n Inwoner van Stoffberglaan het Saterdagmiddag op haar bed gesit, met haar drie-jarige kind langs haar, toe ‘n dwaalkoeël deur die dak gebars het en hulle rakelings gemis het.

Trudie Corda (38) is baie besorgd oor die voorval en sê dat mense moet besef dat dit baie onverantwoordelik is om roekeloos met ‘n vuurwapen op te tree.

Sy het na 3nm met haar kind, Ivanka (3), na die hoofslaapkamer van die huis gegaan.

“Ek het op my bed gesit en Ivanka het reg langs my op ‘n motorfietsie gesit; ek was besig om ‘n program op ‘n televisiekanaal te soek waarna sy kon kyk,” het Trudie gesê.

“Die volgende oomblik het ek ‘n baie harde slag gehoor. Ek was nie dadelik seker wat die oorsaak was nie en het gedink dat iets in die huis omgeval het.

“My oog het toe ‘n gat in die dak gevang en ek het stowwerigheid en stukkies pleister in die hond se bed, wat reg langs my bed staan, opgemerk.”

Die koeël het in die hond se bed vasgeslaan.

“Dit was sentimeters van die plek waar ek en Ivanka was,” het Trudie gesê.

Sy het die voorval by die polisie, wat ‘n verklaring kom afneem het, aangemeld.

“Dit is regtig onaanvaarbaar. Daardie koeël kon vir my of Ivanka tref,” het sy vertel.

“Mense wat vuurwapens hanteer moet die grootste versigtigheid aan die dag lê en besef dat dit nie speelgoed is nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button