Editor's choiceLocal newsNews

Kankerlyer sterf, omring deur pienk bome

Dit is die afgelope tyd nie ‘n ongewone gesig om pienk lap om bome in die dorp gedrapeer te sien nie.

Die projek, wat bekend staan as “Pink Trees for Pauline”, word deur talle mense van die dorp ondersteun.

Dit is ondermeer daarop gemik om mense met kanker te ondersteun.

Die Herald het voorheen daaroor berig en ook self betrokke geraak by die projek (Going pink for a good cause, 12 September).

‘n 67-Jarige inowner van die dorp het verlede Donderdag haar stryd teen longkanker verloor, slegs ‘n paar dae nadat haar dogter pienk lap om al die bome voor haar ma se huis in Wendenlaan gedrapeer het.

Dié gedeelte van Wendenlaan, wat eintlik ‘n lus vir die oog is, is egter ‘n stille herinnering aan die stryd wat die vrou gevoer het.

Ongelukkig was Margaret Pretorius so siek dat sy nooit die mooiheid van die straat voor haar huis kon sien nie.

Haar dogter, Natalie (31) het foto’s geneem en vir haar ma gewys, voordat sy gesterf het.

Natalie vertel dat sy self nie geweet het van die “Pink Trees for Pauline” projek nie.

Haar vier-jarige seun het onlangs vier groot bome in Dalview gesien, wat met pienk lap gedrapeer was. (Die lap is intussen gesteel of verwyder).

“My kind het uit die bloute vir my gesê: ‘Mamma dit is ouma Margaret se bome’”, het Natalie vertel.

“Ek het geen idee hoe hy die konneksie tussen die bome en my ma gemaak het nie en ek het aanvanklik nie veel daarvan gedink nie.

”Ek het ook op dié stadium nie geweet van die projek nie.”

Kort daarna het sy in die Herald gelees van die “Pink Trees for Pauline” projek en het sy besluit om dit te ondersteun.

“Ek het die organiseerders gekontak en vertel van my ma se stryd met longkanker,” het sy gesê.

“Die mense was wonderlik en ondersteunend en het selfs die drie bome voor my ouers se huis, asook een boom binne in die erf kom drapeer.”

Die bure en ander mense in die straat het begin navraag doen en die woord het gou versprei.

“Almal het saamgestaan en die hele blok se bome het gou pienk lap gekry,” het Natalie gesê.

Besighede en ander inwoners in die omgewing het ook betrokke geraak en op die oomblik word bome in aangrensende strate ook gedrapeer.

“My ma was die wonderlikste vrou, ma en vriendin wat enige iemand ooit voor kon wens,” het Natalie gesê.

In 2002 is ‘n gedeelte van Margaret se regter long verwyder, as gevolg van kanker.

Sy is in April vanjaar gediagnoseer met kanker van die long wat gesond was. Sy het ook ‘n jare lange stryd teen velkanker gevoer.

“Nadat my ma in April gediagnoseer is, het sy die moeilike besluit geneem om nie verdere behandeling te ontvang nie,” het Natalie vertel.

“Sy wou gehaltetyd saam met haar geliefdes deurbring; ons almal het die besluit gerespekteer.”

Sy is verlede Donderdag by haar huis oorlede.

Sy laat haar man, Lucas (74), asook drie seuns, Raymond, Michael en Toby en ses kleinkinders agter.

“Die pienk bome voor haar huis is so mooi; dit is soos my ma was — ‘n mooi mens, wat ‘n liefdevolle lewe gelei het en alles vir haar gesin gegee het,” het Natalie gesê.

“Ek is diep dankbaar teenoor al die ander mense in die straat wat uit hul eie deel geword het van my ma se stryd.

”Daar was ook spesiale mense, soos my skoonsuster, Vanessa Pretorius, en tannie, Elsa Pretorius, wat tot die einde aan my ma se sy was en van baie groot hulp was.”

New Image
Margaret Pretorius (67) het verlede Donderdag haar stryd teen longkanker verloor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button