Brakpanner vaar goed in entrepreneurskompetisie
‘n Leerder van Hoërskool Die Anker is onlangs aangewys as een van vyf finaliste in Solidariteit Helpende Hand se nasionale Entrepreneurskompetisie.
Die kompetisie word nasionaal vir graad ses tot 12-leerlinge aangebied.
Deur die kompetisie poog Helpende Hand om die probleem van werkloosheid onder die jeug aan te pak, deur hulle vroegtydig met entrepreneursvaardighede te bemagtig.
Evaluering van die inskrywings het in Augustus plaasgevind, waarna vyf finaliste aangewys is.
Jean-Pierre Bosch (15), ‘n graad 10 leerder aan die Anker was een van die vyf.
Hy het ‘n besigheid, Noah’s Handcrafts, op die been gebring en bou verskeie houtitems deur gebruik te maak van ou pallette.
“Ek doen alle sny- en bouwerk self en ek maak ook items volgens kliënte se spesifieke behoeftes,” het Jean-Pierre gesê.
Talle vriende en familie van Jean-Pierre asook die hoof van die Anker, George Nell, het die jong man gaan ondersteun tydens die finale ronde, wat onlangs in Pretoria gehou is.
Alhoewel Jean-Pierre nie met die eerste plek weggestap het nie het hy R5 000 ontvang, om in sy onderneming te belê.
“Ek het beslis ook baie waardevolle ondervinding opgedoen,” het hy gesê.
Tydens die finale rondte moes die finaliste hul sakeplanne en ondernemings aan ‘n paneel kundiges en die gehoor voorgehou het, waarna hulle beoordeel is.
Volgens Nell is die skool baie trots op enige prestasie wat ‘n leerder behaal.
“Hierdie was ‘n groot kompetisie en Jean-Pierre het beslis sy skool en dorp se naam hoog gehou,” het hy gesê.
“Ons is baie trots op die seun.”



