Pa sterf in ongeluk, ma en kind (13) steeds kritiek
‘n 38-Jarige pa van twee kinders is Sondagaand dood in ‘n ongeluk wat op Mainreefweg, naby die plastiek plakkerskamp, plaasgevind het.
Sy vrou en ouer kind is kritiek beseer terwyl die jongste kind (wat vandag haar tiende verjaarsdag vier) minder enstige beserings opgedoen het.
Dirkie Brits (38) en sy gesin was Sondagaand net na 7nm op pad terug van Kempton Park, na hul huis in Stoffberglaan.
Volgens inligting het ‘n ander voertuig, wat in die rigting van Benoni gery het, glo kop aan kop met die silwer Corsa van die Brits-gesin gebots.
‘n Famililid van die gesin, wat gevra het dat haar naam nie gepubliseer word nie, het gesê dat Dirkie op die toneel oorlede is.
Die Corsa het, na die impak, blykbaar gerol en bo op Alida (32) te lande gekom.
Sy is met ernstige kop-, nek- en heupbeserings na die Life Glynnwood Hospitaal vervoer waarna sy oorgeplaas is na die Netcare Lynnmed Hospitaal. Vandaar is sy na die Netcare Sunninghill Hospitaal vervoer waar sy tans behandel word.
“Sy het baie erg seergekry en volgens die inligting, wat ons het, sal sy moontlik môre (Dinsdag) geopereer word,” het die familielid gesê.
Die 13-jarige Madelyn Brits word in die OR Thambo Hospitaal behandel vir ‘n gebreekte been en enkel. Sy het ook ‘n groot sny aan haar gesig en sy het van haar tande verloor.
Leoni is na die ongeluk vir skraapwonde en kneusplekke oor haar hele liggaam behandel. Sy het ook steke aan haar gesig gekry.
“Ons hele familie is nog in skok en ons probeer nog al die gebeure te verwerk,” het die familielid gesê.
Die bestuurder van die voertuig, wat met die Brits-gesin se Corsa gebots het, is gearresteer en sal van roekelose en nalatige bestuur asook manslag aangekla word.



