Parkinsons kry die man nie onder
‘n 36-Jarige inwoner van die dorp, wat vyf jaar gelede met Parkinsons se siekte gediagnoseer is het besluit dat dié toestand hom nie gaan onderkry nie en sy groot mikpunt in die lewe is om mense meer bewus te maak van die siekte.
Johann Stoltz, van Dalpark, vertel dat hy in Februarie 2009 amptelik gediagnoseer is met Parkinsons.
“Dit was vir my verstommend toe die dokter my meegedeel het dat sommige lyers soms jare lank Parkinsons onder lede het, alvorens hulle gediagnoseer word.
“Ek het oorspronklik opgemerk dat my regterhand nou en dan ‘n bewerigheid het, wat oor die jare erger geword het,” het Johann vertel.
“Min mense weet dat die bewerigheid wat met Parkinsons gepaard gaan eintlik net die `cherrie’ op die koek is.
“’n Mens se spiere is konstant styf en seer en soms gaan dit gepaard met erge pyn in jou gewrigte, asook spierkrampe.”
“Dan kry ’n mens ook later die `Parkinsons masker-gesig’, wat beteken dat jy amper geen kapasiteit vir gesigsuitdrukkings het nie.
“ Die toestand affekteer ook jou uitspraak en jy kry ‘n `monotoon’- stemvolume, met die gevolg dat mense jou somstyds nie kan hoor of verstaan nie.”
Volgens Johann is daar baie ander fasette van Parkinsons en dit is uniek en wissel van pasiënt tot pasiënt.
“Almal begin byvoorbeeld nie met Parkinsons bewe nie; baie lyers ontwikkel dit eers later,” het hy verduidelik.
Johann het in Oktober 2009 ‘n operasie ondergaan in ‘n poging om sy toestand te verbeter.
Twee elektrodes wat in sy kop geplant is, is verantwoordelik vir diep brein stimulering, wat ondermeer bewerasies voorkom.
Johann het vertel dat die operasie hom in ‘n mate toegelaat het om met sy lewe voort te gaan. Hy kon ook vir ‘n tyd lank as rekenaar tegikus werk, maar is in 2013 medies ongeskik verklaar.
“Dit was vir my ‘n groot terugslag, want ek voel dat ek steeds kan werk,” het hy gesê.
“Die feit dat die publiek ook oningelig is en maklik oordeel of opmerkings maak is ook uiters frustrerend.”
Johann se motto in die lewe is: “I have Parkinson’s, it does not have me”.
“In baie opsigte het die Here my geleer om baie dankbaar te wees vir alles en selfs om vorentoe te kyk en aan te beweeg,” het hy vertel.
“Na my DBS-operasie (diep brein stimulering) is die toestand soort van onder beheer en het ek begin fietsry, wat ‘n fenominale uitwerking op my het.
“As ek begin trap verdwyn al my oorblywende Parkinsons effekte – solank ek aan die trap bly.”
Johann doen ook liggaamsbou, in ‘n gymnasium, saam met sy persoonlike afrigter en vriend, Karel van Deventer.
Dit was vir hom onlangs ‘n groot voorreg toe hy deur die Parkinsons Assosiasie genooi is om by ‘n seminaar teenwoordig te wees, waar hy ondermeer in ‘n onderhoud met prof John Carr was. Carr is ‘n neuroloog en kundige op die gebied.
“Daar was afgevaardiges van reg oor die wêreld teenwoordig en dit was vir my nogal skokkend toe ek agterkom dat die publiek se kennis oor Parkinsons baie beperk is,” het hy gesê.
“Dit lei ongelukkig daartoe dat baie Parkinsons lyers soms aangesien word as dronk of verstandelik gestrem.”
Dit was juis by dié seminaar waar “Pies for Parkinsons” van stapel gestuur is.
Die konsep is basies dieselfde as die “Ice Bucket Challenge”, wat onlangs wêreldwyd deur derduisende mense beproef is. Dit was ter bewusmaking van Motorneuron-siekte, die toestand wat die bekende rugbyspeler Joost van der Westhuizen onder lede het.
“Met die `Pies for Parkinsons’ veldtog wil ons poog om fondse vir die Parkinsons Assosiasie van Suid-Afrika (PASA) in te samel,” het Johann gesê.
“Dit kom daarop neer dat iemand basies ‘n roomtert of koek in jou gesig kan smeer.
“Natuurlik moet die betrokkenes bereid wees om ‘n donasie aan PASA te maak.
“Die veldtog gaan nie so seer daaroor om ‘n roomkoek in jou gesig te kry nie, maar eerder oor bewusmaking en fondsinsameling.
“Ek wil baie graag die veldtog goed aan die gang kry en is ook bereid om by skole en kerke te gaan praat en my getuienes te gee.
“So, my uitdaging gaan aan almal: indien julle ’n tert in die gesig wil vat, maak ’n video van dit en wys jou ondersteuning deur ‘n donasie te maak.
“Of as jy nie jou gesig vol tert wil hê nie, kan jy net ’n donasie maak,” het Johann gesê.
Die bankbesonderhede is op www.parkinsons.co.za
Persone wat met Johann wil kontak maak kan hom kontak by 0763791660, of op Facebook.
Karin Willemse van PASA kan by 084 650 6500 gekontak word.



