Dit was vanjaar die eerste keer dat die Noordvaal toernooi aangebied is en spanne van verskillende unies moes kwalifiseer om daaraan deel te neem.
Skole van die Valke, Leeus, Luiperds, Bulle, Limpopo Bulle en Puma’s het aan die toernooi, wat oor twee dae gestrek het, deelgeneem.
Die skole is opgedeel in vier groepe en Die Anker was in ‘n groep saam met Middelburg, Garsfontein en Hans Strydom.
“Ons is tevrede dat ons op hierdie groot toernooi die `Bowl’ kon wen. Ons het oor die twee dae in ses wedstryde gespeel en slegs een wedstryd verloor, teen Garsfontein,” het Rocky Truter, van Die Anker gesê.
“Ons was baie ongelukkig dat ons in so ‘n sterk groep was. Garsfontein, wat tweede geëindig het, en Middelburg wat, derde geëindeig het, was albei in ons groep.”
“Ons het ons kwartfinaal teen Hans Moore met 38-14 gewen, in die halffinaal het ons Montana met 34-5 geklop en in die Bowl-finaal het ons maklik met Ben Vorster afgereken, met 33-10.”
“Ek is trots op die seuns,” het Truter bygevoeg.
In die ses wedstryde wat Die Anker gespeel het, was daar vyf keer een van Die Anker se seuns aangewys as die speler van die wedstryd.
Die Anker het vanjaar ook in agt toernooie regoor die land gespeel en het baie goed gevaar.
“In die Wildtuintoernooi het ons ook slegs een wedstryd teen vanjaar se Beeldtrofee kampioene, Nelspruit, verloor, en ook die `Bowl’ gewen,” het Truter gesê.
“Die Anker het ook vanjaar ses Bokkieweek sewes spelers opgelewer en Shane Coetzee en JJ Keiser het albei die Valke verteenwoordig tydens vanjaar se Cravenweek sewestoernooi.



