Oupa en kleindogters deur rowers in hul huis oorval
‘n 72-Jarige man en sy twee kleindogters het verlede Donderdag angsvolle oomblikke beleef toe hulle in hul huis deur vier gewapende rowers oorval is.

Die vier booswigte het die tieners, wat 18 en 16 jaar oud is, vasgebind en ook die bejaarde man aangerand.
Die drama het homself by ‘n huis in Olienhoutstraat, Dalpark, afgespeel, toe die pa van die kinders om ongeveer 6.20vm sy vrou in Brakpan-sentraal gaan aflaai het, waar sy ‘n saamry geleentheid kry.
Die man (46) het versoek dat die betrokkenes se name nie gepubliseer word nie.
“Ek het gou gery om my vrou te gaan aflaai en my pa was besig om ‘n bakkie, waarmee ons werk, te laai.
“Die goed wat gelaai moes word, is groot, en ons moes die bakkie noodgedwonge so parkeer dat die hek nie kon toemaak nie,” het die man gesê.
Volgens hom is sy pa op ‘n stadium na die agter erf en dit was in dié tyd dat vier rowers in die erf gesluip het en toegang tot die huis verkry het.
“My kinders was nog in hul kamers en hulle is heeltemal onkant betrap,” het hy vertel.
“Hulle hande en voete is vasgebind en die rowers het gewag tot my pa in die huis kom.
“Hy is oorval en hardhandig behandel voordat hulle hom ook vasgebind het.”
Die booswigte het die bejaarde man gedwing om hulle te wys waar die kluis is en hulle het kontant daaruit verwyder.
“Daarna het hulle begin om goed in die huis bymekaar te maak,” het die eienaar vertel.
Toe hy by die huis kom het hy niksvermoedend deur die motorhuis by die kombuis ingestap.
“Een van die rowers het ‘n pistool teen my kop gedruk,” het hy gesê.
“Ek het instinktief opgetree en die deur toegestamp. Dit het my kans gegee om weg te kom.”
Die man vertel dat hy in die straat afgehardloop het en om hulp geskreeu het. Die rower met die pistool is agterna.
“Dit was redelik vroeg en almal se hekke was nog toe. Ek het nie veel van ‘n keuse gehad as om in die straat af te hardloop nie,” het hy verduidelik.
“Ek glo my geskreeu het die drie rowers, wat nog in die huis was, se aandag getrek en hulle het in hul voertuig gespring en hul makker, wat steeds agter my aan was, opgelaai en weggery.
“Op daardie stadium het ek terug gehardloop na my huis, en besef dat daar groot moeilikheid kon wees.”
Die man het sy pa en sy twee dogters in ‘n kamer aangetref, waar hulle steeds vasgebind was.
Die tieners het geen beserings opgedoen nie, maar is baie erg getraumatiseer deur die voorval.
“My een dogter skryf op die oomblik matriek en dit gaan maar rof,” het die man gesê.
Die voorval word deur die polisie ondersoek.
.



