Beurtkrag: Persoon uit hysbak bevry nadat krag af gaan
Eskom se beurtkrag het die afgelope weke vir groot ongerief en finasiële implikasies gesorg.

Dit is ook kommerwekkend dat daar op dié stadium nie lig aan die einde van die tonnel blyk te wees nie.
Inwoners van die dorp het die afgelope twee naweke, veral, swaar gebuk gegaan onder beurtkrag wat geïmplimenteer is.
Besighede en huishoudings moet deesdae allerhande planne beraam en aanpassings maak; wat meestal ‘n finansiële impak het.
Vrydag moes lede van die Ekurhuleni Nooddienste ‘n persoon wat in ‘n hysbak by die Tweedy Park Woonstelkompleks vasgesit het, te hulp snel.
Volgens ‘n 90-jarige inwoner van die woonstelle, wat versoek het dat haar naam nie gepubliseer word nie, het die hysbak tussen twee vloere tot stilstand gekom, toe die krag afgegaan het.
Die persoon is blykbaar na ‘n ruk uit die hysbak bevry.
“Daarna het die hysbak nie weer gewerk nie en die bejaardes wat, soos ek self, nie trappe kan klim nie, was die hele naweek in ons woonstelle gekluister,”het die vrou Maandag aan die Herald gesê.
“Wanneer die hysbak wel werk is ons amper te bang om dit te gebruik in geval die krag afgaan.”
Besighede in die dorp gaan ook swaar gebuk onder die onderbrekings. Die eienaar van Die Laundromat in Glamorganlaan sê dat dit groot ontwrigting veroorsaak en beslis ‘n finansiële impak het.
“Indien ek die wasmasjiene, tuimeldroeërs en stykysters aan die gang wil hou, met ‘n kragopwekker, sal ek baie duisende rande moet spandeer vir ‘n opwekker wat aan die behoeftes sal voorsien,” het die vrou gesê.
”Ons het kliënte, wat die algemene publiek, asook besighede, insluit, wat verwag dat hulle wasgoed of items op ‘n sekere tyd gereed sal wees.
“Sommige verstaan dat die kragonderbrekings ons werk met tot drie ure vertraag, maar daar is ook die wat nie begrip het nie.
“Ek is heeltemal afhanklik van krag en die huidige situasie skep nie ‘n rooskleurige prentjie nie.”
Talle van die Herald se lesers het ook hul misnoeë met die situasie te kenne gegee en hul frustrasies op die Herald se Facebookblad gedeel.
* Jan Duvenhage: Vanmiddag (Vrydag) was in Brenthurst nie elektrisiteit of water nie … Hoe pateties is hierdie land van ons nie!!!
* Erika Swanepoel: Jan né. Kersfeesliggies is nie eers uitgehaal nie. Sal maar kerse moet inspan vir versiering die jaar en koue vleis en koue slaai en water en sap.
* Renette Venter: Eskom moet asb! nou net bykom in die lewe. So gatvol vir hul stories.
* Alfred Wilson: Ek is nie sorry vir die taal nie! As ek ‘n ding sê dan sê ek dit. Dit is somer k-k dat Brakpan se krag so baie af gaan.
* Bernadatte Marais van Zyl: What is the purpose of the schedule if Eskom does not stay at those times?
* Janene de Beer: Time for a competitor to come and sell us all solar power and take on the fat cats.
* Dirk Reload: I say: Fire the EishKom boss. The one that earns 22 million per Year! And appoint me.
(Sommige van die kommentaar is ietwat gewysig).



