Bekende inwoner en ma van 16 kinders oorlede
‘n Bekende en jarelange inwoner van die dorp, Doreen van Niekerk, is verlede Dinsdag op die ouderdom van 92 jaar oorlede.
Doreen was vir 65 jaar woonagtig in Brakpan en sy en haar groot gesin was in vroeër jare bekend as “Die Vaderland-gesin”.
Dié naam het onstaan weens die feit dat daar vir baie jare byna elke Kersfees ‘n nuwe toevoeging tot die gesin was.
Doreen en Abraham, wat in 1987 oorlede is, was die trotse ouers van 16 kinders; agt seuns en agt dogters.
Die oudste, Calie (70), leef vandag nog en die jongste, Pieter, is in Februarie 2010, op 35-jarige ouderdom, oorlede.
Na Calie was daar Piet (69), Helen (68), Tiesa (66), Stella (65), Abraham (oorlede), Frits (62), Mike (oorlede), Johnny (60), Jeanny (59), Judy (58), Annetjie (55), Isabel (54), Katie (53) en Dawie (47).
Doreen het vir haar kinders en later haar kleinkinders en agterkleinkinders gelewe. Sy sou berge versit om haar groot gesin gelukkig te hou.
Daar is altesaam 47 kleinkinders en 46 agterkleinkinders, asook een agter-agterkleinkind.
Volgens ‘n familielid, het Doreen altyd omgesien na die welsyn van haar kinders. Sy was baie lief vir tuinmaak en het gesorg dat haar huishouding altyd agter mekaar is.
Na haar eggenoot se afsterwe het sy steeds in hul huis aangebly en dit was vir haar altyd lekker om besoek te ontvang van enige van haar kinders of hul kinders.



