LettersOpinion

Kleintjie se oupa moet tot die redding kom

''Ouma'' van Dalview skryf per e-pos: Ek het nou die dag so ‘n oulike ding gesien, ek moet dit net doodeenvoudig met almal deel.

Ek was by die Mall@Carnival toe ek agter ‘n man en vrou en hulle kinders loop. Daar was ‘n baba in ‘n stootwaentjie en ‘n seuntjie van so vier jaar oud.

Dié knapie wou nie sy ma se hand vashou nie en het kort-kort so ‘n entjie voor hulle uitgehardloop. Die pa het ‘n paar keer vir die kleintjie gesê hy moet sy ma se hand vashou, want mense gaan hom steel.

Op ‘n stadium het hy weer vooruit geloop en sy pa het, toe hulle hom ingehaal het, vir hom ‘n klap op die boud gegee.

Hy het weereens verduidelik dat die kind sy ma se hand moet vashou aangesien mense hom kan omloop of steel.

Die kleintjie het sy boud vasgehou, waar die hou geval het, na sy pa gekyk en gesê: “As ons by die huis kom gaan ek my oupa bel. Hy gaan sy belt bring en jou pak gee”.

Ek kon ongelukkig nie die res van die gesprek hoor, of sien wat daarna gebeur het nie. Die mense sou dink ek is laf om hulle so aan te staar.

Omdat ek self ‘n ouma is en ek en my man ook kleinkinders het, kon ek die situasie terdeë geniet.

Ons kleintjies weet ook dat ons altyd hulle kant kies, alhoewel hulle nie pak kry nie.

Ek hoop maar die kleintjie se oupa het die saak reg hanteer. Die hele ding was net te dierbaar om te aanskou en het my dag gemaak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button