Geskarrel om pa en seun uit dam te red toe boot sink
‘n Man en sy 14-jarige seun moes Vrydagaand uit die Jan Smutsdam gered word, nadat die bootjie waarin hulle was, vol water geraak en omgeslaan het.
Beide was vir meer as ‘n uur in die koue water voordat hulle na die kant gebring kon word.
Sybrand (45) en sy seun, Morné (14), het Vrydagmiddag net voor 3.30nm die water binnegegaan op ‘n tweeman-boot met ‘n ligte motor.
“Ons vang gereeld op dié wyse vis en het nog nooit voorheen probleme gehad nie,” het Sybrand gesê.
Toe dit begin skemer raak, het Sybrand iemand by sy bakkie, wat op die oewer van die dam geparkeer was, opgemerk en het hulle besluit om terug te keer.
“Dit het ook liggies begin reën en daar was ‘n kwaai wind,” het Sybrand gesê.
Die wind het golfies, wat oor die boot gebreek het, op die dam veroorsaak.
“Die boot het gou vol water geraak en begin sink,” het Sybrand vertel.
“Alhoewel ons baie ver van die kant van die dam was, was die water gelukkig vlak en kon ons op die boot gestaan het nadat dit na die bodem gesink het.”
Mense wat visgevang het, asook besoekers aan die kuierplek wat by die dam geleë is, het gesien dat die pa en seun in die moeilikheid was en hulp is ontbied.
Nooddienspersoneel van Ekurhuleni, asook lede van die SAPD en die verkeersdepartement het op die toneel aangekom en talle nuuskieriges het gou saamgedrom.
‘n Lid van die Brakpan Radio Groep, Jan Steyn, het met ‘n opblaasboot tot by die pa en seun gevaar.
Morné is eerste na veiligheid gebring, terwyl Sybrand by sy boot gebly het.
Daarna is Sybrand se boot met die hulp van Jan en ander weldoeners uit die water gelig en ook na die kant gebring.
Sybrand was ongedeerd en was net verlig dat hy en sy seun veilig was.
“Ek is ook dankbaar dat ek my boot uit die dam kon kry,” het hy gesê.
Sybrand het ‘n reservis, wie se naam onbekend is, asook ander lede van die publiek bedank vir hulle hulp.
‘n 18-Jarige jong man, wat tydelike werk as lewensredder by die munisipale swembad doen, het voordat hulp opgedaag het, na die pa en seun geswem om te hoor of alles in orde is.
“Ek is ‘n goeie swemmer en ek wou maar net gaan hoor het of hulle `ok’ is,” het Lawrence Havenga van Brakpan-Noord gesê.
“Toe ek naby hulle kom het hulle gesê dat hulle op die boot staan en dat hulle gaan wag vir hulp. Ek het toe omgedraai en terug geswem.”



