Editor's choiceLocal newsNews

Rugbyspelers sorg dat “Tannie-vetkoek” nuwe wiele kry

Dié “kos-tannie” van die rugbyklub, is  verlede Donderdag op haar 44ste verjaarsdag aangenaam verras toe sy ‘n splinternuwe bromponie van die spelers ontvang het.

Die spelers van die Brakpan Rugbyklub is oor die algemeen rateltaai en wanneer hulle ‘n wedstryd speel, doen hulle dit met mag en mening.

Die bordjies is verlede Donderdag egter heeltemal verhang toe ‘n groep van sowat 100 spelers gewys het dat hulle ook ‘n sagte kant het.

Dit is beslis ‘n dag wat Elandé Moore nie gou sal vergeet nie.

Elandé sorg vir die afgelope jaar dat die spelers op hul oefenaande (Dinsdae en Donderdae) asook op wedstryddae kos kry.

“Ons het ‘n borg wat sorg dat daar vir die spelers kos is en dit is my werk om die kos voor te berei,” het sy gesê.

Elandé vertel dat sy met ‘n ou afgeleefde bromponie gery het.

“Die ou ding het soveel probleme gegee.”

Sy hou ook nie daarvan om motor te bestuur nie, aangesien beide haar twee vorige mans in motorongelukke oorlede is.

“My ou bromponie was regtig in ‘n toestand, maar dit was my enigste vervoermiddel.”

Verlede Donderdagaand het sy, soos ouder gewoonte, weer reggestaan met kos vir die sowat 100 spelers en sy het ook gesorg vir ekstra lekkernye omdat dit haar verjaarsdag was.

“Die spelers het op ‘n stadium ‘n soort van erewag op die veld gevorm en my geroep.”

“Hulle het vir my gesing en toe gesê dat ek my verjaarsdaggeskenk in hul kleedkamer moes gaan haal.”

Elandé was stomgeslaan toe sy ‘n splinternuwe, blink bromponie sien.

“Ek het geen idee gehad en ook nooit so iets verwag nie. Natuurlik het die trane lekker geloop.”

Almal sal ook weet dit is Elandé se wit en rooi bromponie, aangesien die woorde “Tannie Vetkoek” aan die voorkant daarvan pryk.

“Die spelers eet graag vetkoeke en dan moet ek reg staan met sowat 200 vetkoeke en 30 kilogram se maalvleis,” lag Elandé.

Wanneer sy warmbrakke (hot dogs) maak, draf die manne gou sowat 200 broodrolletjies en 400 worsies kaf.

“Toe ek met die kosmakery begin het, het hulle altyd vir my gesê: `hello tannie, hoe gaan dit’, nou sê hulle: ‘hello tannie, wat eet ons’.

Elandé vertel dat die spelers, afrigters en bestuur almal geld ingesamel het om haar nuwe ryding en splinternuwe valhelm te koop.

“Die tenk was boonop vol brandstof en ek het ook kontant ontvang,” het sy gesê.

“Dit was beslis een van die beste verjaarsdae ooit. Ek gaan hierdie bromponie so mooi oppas en die manne moet net weet dat ek ongelooflik dankbaar is,” het Elandé gesê.

Kyk hier na die foto’s 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button