Waarskuwing aan motoriste: motorkapers se nuutste manier om jou kar te vat
Die Brakpan SAPD het motoriste versoek om dringend kennis te neem van die nuutste skelmstreek van rowers om voertuie te roof.

Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan polisie, het gesê dat die nuwe tendens kommerwekkend is.
“Booswigte verwyder die nommerplaat van ‘n voertuig wat by ‘n winkelsentrum geparkeer staan,” het hy verduidelik.
“Hulle wag dan dat die eienaar van die voertuig wegry en agtervolg dan die motor.
“Op ‘n stadium sal hulle die motoris se aandag trek en wys dat hulle die nommerplaat het.
“Uit die aard van die saak sal ‘n mens sekerlik stilhou om jou nommerplaat te kry, maar dit is presies wat die rowers wil hê.
“Die oomblik dat ‘n niksvermoedende motoris stilhou word hy of sy ‘n sagte teiken vir die nuwe truuk.”
Joubert het aanbeveel dat motoriste moet kyk dat beide hul nommerplate in plek is, na die voertuig vir ‘n ruk in ‘n openbare plek geparkeer was.
“Moet ook onder geen omstandighede stilhou indien jy onraad vermoed nie,” het hy bygevoeg.
“Daar was reeds sulke voorvalle aangemeld en ons wil graag alle motoriste maan om uiters versigtig te wees.”



