Stapper bereik sy doelwit
Brakpan inwoner Werner Gerber (31), ook bekend as die “Soldaat vir Jesus”, het onlangs sy doelwit bereik om ‘n houtkruis 140km per voet te dra, vanaf Minnebron tot by die Middelburg Toll Plaza in Mpumalanga.
Sy “Stap van geloof” het reeds op 29 Maart begin maar, na ‘n voetbesering, kon hy teen 4 April net daarin geslaag het om 48km af te lê. Werner het egter sy staptog op 6 Julie hervat en volhart tot by die eindpunt, wat hy op 13 Julie bereik het.
“Die staptog het nie soveel gegaan oor die kilometers wat ek afgelê het nie, maar eerder oor die hoeveelheid mense wat ek daardeur kon aanraak,” het hy gesê.
“Dit is vir my belangrik om die Woord te verkondig en dit is wat ek wou bereik met die projek wat ek aangepak het.
“Baie mense het met die verby ry toeter gedruk. Ander het weer stil gehou en gevra dat ek vir hulle bid.”
Werner het ook groot lof vir almal wat hom ondersteun het.
“Daar was selfs vreemdelinge wat vir my iets gegee het om te eet of te drink,” het hy gesê.
Hy beplan om eersdaags saam met sy gesin na te Nieu-Seeland te immigreer, waar hy sal voortgaan met die verkondiging van die Woord.
“Ek gaan beslis ook dáár die ‘Stap van geloof’-projek voortsit,” het hy vertel.
Lees ook:



