Ondersoek na skietery oor kwadfiets voorval byna afgehandel
Die ondersoek in die saak waar twee mans in Maart vanjaar geskiet is, tydens ‘n onderonsie oor ‘n kwadfiets wat glo stof gemaak het, is byna afgehandel.
Dit het sedertdien aan die lig gekom dat ‘n derde persoon ook glo daardie aand skrams gewond is.
Volgens die woordvoerder van die Brakpan SAPD is die ondersoek so te sê voltooi.
“Die dossiere word dan na die senior staatsanklaer verwys, wat ‘n beslissing sal maak of enige vervolging ingestel moet word,” het kapt Joubert gesê.
Die voorval het vroeër vanjaar groot oplsae gemaak toe die twee mans (beide in hul 40’s), vermoedelik deur ‘n persoon van ‘n sekuriteitsmaatskappy geskiet is.
Die Herald het destyds berig dat die drama laat die middag ontvou het, toe ‘n 18-jarige vrou, Casey Leigh Peterson, en haar 18-jarige vriend, Clinton Fourie, met ‘n kwadfiets in ‘n veld, wat aan Carneystraat grens, gery het.
Volgens inligting, wat na die voorval van die SAPD verkry is, het die eienaar van ‘n huis in Carneystraat, Robert Venter (44), uitgegaan en glo die jong mense versoek om nie in die veld te ry nie, aangesien dit stof maak.
‘n Argument het blykaar ontstaan en Venter se vrou, Carol, het volgens inligting ‘n sekuriteitsmaatskappy ontbied.
Volgens informasie wat destyds aan die Herald verskaf is, het die argument voortgegaan en Venter het na bewering ‘n baksteen of groot klip opgetel, wat hy na die jong mense gegooi het.
Die SAPD het aan die Herald gesê dat Casey Leigh glo haar pa, Steven Cloete (48), asook haar oom, Braam Heysteck (40), en broer, Juandré Cloete (ouderdom onbekend), gebel het.
Toe die drie mans by die huis aankom, het ‘n verdere bakleiery glo tussen hulle en die huiseienaar ontstaan.
Tydens dié struweling het die persoon van die sekuriteitsmaatskappy na bewering skote afgevuur. Beide Steven Cloete en Braam Heystek is in die maag gewond.
Dit blyk uit die ondersoek dat Juandré Cloete ook glo tydens die skietery skrams gewond is.
Paramedici is na die toneel ontbied en die twee ouer mans is gestabiliseer voordat hulle na ‘n hospitaal vervoer is.
Joubert het bevestig dat drie dossiere met betrekking tot die saak geopen is en ondersoek word.
In die eerste dossier is daar drie klagtes van poging to moord en verskeie klagtes onder die vuurwapen wet aangemeld.
In die tweede dossier word klagtes van aanranding ondersoek, en in die derde dossier word klagtes van aanranding en saakbeskadiging ondersoek.
“Dit is nie heeltemal duidelik wanneer die bevindinge aan die senior staatanklaer voorgelê sal word nie,” het Joubert gesê.
Lees ook:
Rower se lyk gekry nadat vrou in maag geskiet is



