Skoolvriende groet mekaar weer na 50 jaar
Na maande van beplanning en groot opwinding, het ’n groep oud-Stoffies van 1965 verlede naweek, hul glansryke 50 jaar reünie gehou.
Die media, radio en televisie is oor ’n lang tydperk ingespan om oud-Stoffbergers te help opspoor en daar was eindelik 19 Stoffies wat die verskillende geleenthede, wat oor die loop van die naweek plaasgevind het, bygewoon het.
Die reünie is so hoog geag dat oud-leerlinge selfs van Yzerfontein, Ballito en Limpopo gekom het om die besondere geleentheid by te woon.
Oud-onderwysers Japie Steyn, wie onlangs sy 90ste verjaarsdag gevier het, Fred Terblanche, voormalige internasionale skeidsregter, Piet Robbertse, en Jannie Stanton, was ook deel van die gastelys.
Die eerste ontmoeting na ’n half eeu het baie herinneringe en nostalgiese onthou-jy-nog na vore gebring.
Wouter Rothman, 1965 se hoofseun, het dit goedgedink om die reünie verlede Vrydagaand af te skop met die bywoning van Hoërskool Stoffberg se jaarlikse revue. “Ons het groot bewondering gehad vir die leerlinge se entoesiasme en selfvertroue waarmee hulle opgetree het,” het Rothman gesê.
Saterdagoggend het die skoolvriende ’n ontbyt by Die Plaaskombuis geniet en kostelike staaltjies met mekaar gedeel.
Daarna het die groep die skoolterrein besoek en ’n stap deur vervloë herinneringe onderneem.
Die hoogtepunt van die reünie was egter die geleentheid wat Saterdagaand by die Medleyhuis gehou is.
Koos Boshoff, huidige hoof van Hoërskool Stoffberg, het die verrigtinge geopen en ook die oud-Stoffies ingelig oor hoe die skool die afgelope jare ontwikkel en presteer het.
’n Tradisie wat verlede jaar deur die 1964-groep geïnisieer is, is ook voortgesit deurdat Wouter Rothman die aflosstokkie wat hy verlede jaar ontvang het, aan Hans Muller, die hoofseun van 1966 oorhandig het om volgende jaar se funksie vir die ’66 matrieks te organiseer.
“Die naweek was nie net ’n weer-sien nie, maar ook ’n geleentheid om vriendskapsbande te hernu,” het Rothman gesê.
Lees ook:
Hoërskool Stoffberg 20 jaar reünie





