Editor's choiceLocal newsNews

Oom Gouwsie word negentig

’n Inwoner van die dorp wat homself vir baie jare oor die veiligheid van ander en veral oor bejaardes besorg het, het Maandag sy negentigste verjaarsdag gevier.

Jacob Albertus Gouws, of oom Gouwsie, soos hy alom bekend is, het oor die jare bekend geword, oor hy homself altyd oor ander ontferm.

Hy was die jongste van 11 kinders, die ander is lankal oorlede.

As ’n plaaskind in die Karoo, moes oom Gouwsie koshuis toe, want daar was nie skole naby nie. Na sy skoolloopbaan het hy verder studeer en vir 43 jaar as ’n rekenmeester by die ou Spoorweg (SAS & H) gewerk.

Hierna het oom Gouwsie hom toegewy aan die gemeenskap van die dorp, waar hy vir 10 jaar lank as reservis diens gedoen het en gereeld bejaardes besoek het om raad te gee oor die beveiliging van hul huise.

Oom Gouwsie het ook jare gelede ’n buurtwag in Brenthurst begin waar hy baie nagte rondgery het en gehelp het om verdagtes aan te keer.

Hy geniet nog steeds goeie gesondheid alhoewel die bene nie meer so gewillig is nie. Daarvoor span hy maar ’n kierie in om te help. Behalwe dat hy onlangs sy sig in een oog verloor het en soms ietwat vergeetagtig is, gaan dit klopdisselboom met oom Gouwsie.

Hy lees nog elke dag die koerant en kyk graag televisie.

Bedags sit oom Gouwsie graag in die son en saans maak hy steeds seker dat die hekke gesluit is en die deure toe is.

Verder geniet hy sy tyd saam met sy twee kinders, Willie en Wanda, sy vyf kleinkinders en vier agterkleinkinders.

Oom Gouwsie se vrou, Meps, het onlangs 80 jaar oud geword, en volgende jaar is hul 60ste huweliksherdenking.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button