Editor's choiceLocal newsNews

Toekenning spoor Juan-Marié verder aan

’n 24-jarige gestremde werknemer van die Brakpan SAPD het Vrydagaand ’n gesogte toekenning tydens die SAPD se jaarlikse Gauteng Prestige Toekenningsaand by Emperors Palace ontvang.

By die funksie het Juan-Marié van der Schyff die Gestremde Persoon van die Jaar toekenning ontvang.

Sy werk die afgelope vier jaar permanent as ’n skakelbord-operateur by die Brakpan polisiestasie, nadat sy dit een jaar vrywillig gedoen het.

Dit is ook Juan-Marié se plig om navrae van die publiek aan te hoor en hulle daarna na die regte persone te verwys.

Sy was verlede jaar die naaswenner in dieselfde kategorie en sê dat die eer wat haar vanjaar te beurt geval het, ’n groot verrassing was.

Lede van die SAPD word jaarliks deur die bestuur genomineer vir die toekennings.

Daar word ondermeer na dienslewering, behulpsaamheid, dissipline en uitsonderlike prestasies gekyk.

Juan-Marié sê dat sy haarself as bevoorreg beskou om dié werk te kan doen en dat sy dit nie sommer vir ’n ander pos sal verruil nie.

“Ek geniet dit om met die publiek te werk en ek is bly dat ek ’n positiewe bydrae kan lewer,” het sy vriendelik verduidelik.

Oor haar gestremdheid is sy ook uitgesproke en sê dat daar ongelukkig ’n wanpersepsie bestaan dat gestremde mense dom is. “Ek lag maar net lekker vir mense wat so ’n uitkyk op die lewe het.”

“Die toekenning bewys dat ek wel iets beteken. Alhoewel ek ’n positiewe gesindheid het, is hierdie ’n besondere voorreg wat my te beurt geval het en ek dank my Hemelse Vader daarvoor.”

Sy het ook haar kollegas, wat vir haar soos ’n tweede familie is, bedank vir die vertroue wat hulle in haar geplaas het.

Juan-Marié vertel dat minderbevoorregte mense en bejaardes haar baie na aan die hart lê en sy is bekend daarvoor dat sy graag by projekte waarby ander baat vind, betrokke raak. “Ek glo in ’n mate is dit omdat ek soveel het om voor dankbaar te wees. Ek gee eerder as om te ontvang.”

Juan-Marié geniet dit om te lees en lapverf te doen, maar is op haar gelukkigste agter die polisie se skakelbord.

Lees ook:

Parkinson’s sufferer’s message of hope

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button