Publiek en SAPD moet hande vat
Abrie Beetge is sowat twee maande gelede verkies as die nuwe voorsitter van die Brakpan Gemeenskap Polisieëringsforum en dis ’n verantwoordelikheid wat hy nie ligtelik opneem nie.
Hy het reeds sy voete gevind en het onlangs die hoop uitgespreek dat die forum, wat die skakel tussen die SAPD en die publiek is, net van krag tot krag sal gaan.
Beetge, wat die afgelope jaar in Brakpan woon, sê dat dit eintlik vir hom ’n droom is wat waar geword het.
Hy was aanvanklik deel van ’n groep motorfietsryers wat by die forum aangesluit het.
“Dit is vir my uiters noodsaaklik om die forum ten volle op dreef te kry en te sorg dat die gemeenskap ’n positiewe houding teenoor die organisasie inneem,” het Beetge gesê.
“Dit gaan groot beplanning en harde werk verg om die gemeenskap te kry om hande te vat, maar dit is ’n doelwit wat ek graag sal wil bereik. Uit die aard van die saak moet daar ’n goeie verhouding tussen die forum en die bestuur van die Brakpan SAPD wees en ek is trots om te sê dat ons daardie punt bereik het.”
Beetge het groot planne vir die dorp.
“Ek is net die voorsitter, maar ons het ’n kommitee en lede wat baie passievol is,” het hy verduidelik.
“Ons wil baie graag ’n plek tot stand bring, wat ’n veilige tuiste vir persone in nood kan wees en waar jonger mense, wat met dwelmmisbruik worstel, gehelp kan word.”
“Hierdie is ’n pragtige dorp waar almal veilig moet wees, en ons kan dit net vermag deur samewerking. Die publiek moet betrokke raak. Baie mense is vinnig om ’n vinger na die SAPD te wys, maar is nie altyd gretig om hul kant te bring nie.”
“As jy ’n verskil wil maak sal dit die regte ding wees om by die Gemeenskap Polisieëringsforum aan te sluit,” het Beetge gesê.
Wanneer Beetge homself nie besig hou met forum sake nie, bedryf hy sy eie besigheid en dié motorfietsliefhebber is boonop ook die president van die Leader of the Pack Motorfietskklub.
Wanneer hy ’n kans kry oefen hy graag om fiks te bly en omdat hy daarvan hou om mense te help doen hy berading in sy private hoedanigheid.



