Gesin kon geliefde hond nie self begrawe
’n Gesin van Wendenlaan het verlede week groot hartseer beleef toe hul hond doodgery is, nadat kriminele die hond uit die erf laat kom het.
Boonop kon hul nie hul geliefde Zina, ’n pitbull self begrawe nie.
Shan-e Bekker (25) vertel dat Zina verlede Donderdag in die vroeë oggendure uit die erf gekom het toe twee inbrekers toegang tot die perseel probeer verkry het.
“Ons het dit nie dadelik agtergekom nie, maar toe ons besef het dat Zina nie meer in die erf is nie het ons met twee voertuie gery en na haar begin soek.
Ons het Vrydagoggend vroeg na die Dierebeskermingsvereniging (DBV) gery en het gewag totdat hulle om 9vm oopmaak.
“Zina was nie daar nie en ons het voortgegaan om oral rond te ry om ons hond te soek,” het Shan-e vertel.
Ongeveer 10vm het sy ’n oproep van haar ma, Letitia Bekker, gekry wat haar meegedeel het dat iemand gesien het hoe ’n motoris ’n hond in Muriel Brandstraat raakgekry het.
“Die ooggetuies het gesê dat die hond onder die kar ingerol het, het Shan-e gesê.
’n Tweede voertuig het glo stilgehou en die hond is in dié voertuig se kattebak gelaai.
Die bestuurder van die voertuig sou die hond glo na die DBV neem.
“Nadat ek die nuus ontvang het, het ek die DBV weer gebel, maar hulle kon nie bevestig dat my hond daar was nie,” het Shan-e vertel.
“Intussen het ons nie ophou soek nie en ek het aangehou hoop dat iemand sou reageer op die pamflette wat ons versprei het.”
Vrydagoggend het Shan-e weer na die DBV gegaan en het toé bevestiging gekry dat dit inderdaad die gesin se hond was, wat die vorige dag doodgery is.
“Ek het gevra of ek my hond kon kry want ek wou haar graag self begrawe, maar is meegedeel dat die munisipaliteit reeds my hond kom verwyder het,” het Shan-e gesê.
“Uit desperaatheid het ek die munisipaliteit gebel en hulle het my ingelig dat ek te laat was. Ek is aangeraai om die trok te gaan soek en agter dit aan te ry na die stortingsterrein.”
“Dit was nie aangenaam om te hoor nie. Die hele situasie was al traumaties genoeg.”
“Zina was meer as net ’n hond, sy was ’n vriend, sy was familie en dit is so stil sonder haar.”
“Ons harte is baie seer oor hoe sy gehanteer is, ons sou graag wou groet.”
Sy was agt weke oud, toe sy per vliegtuig, vanaf Kaapstad na OR Tambo lughawe na ons toe gekom het.”
“Ons het vir haar gewag met groot opgewondenheid en ons was onmiddellik verlief op haar.
Dit is nie bekend wie die persoon is wat Zina doodgery het nie.
Die persoon wat die hond daarna opgelaai en na die DBV geneem het is Ann Martin, wat toevallig op die toneel afgekom het.
Martin is die skakelbeampte en fondsinsamelaar vir die Brakpan DBV.
Lees ook:
Leser se pyn oor kat wat vir dood gelaat is
Unwanted guests sneak around the neighbourhood



