Editor's noteLocal newsNews

Talentvolle Nikita leef haar drome uit

Iemand met soveel passie vir die lewe soos dít wat Nikita Kotze elke dag uitleef, kry mens beslis nie om elke hoek en draai nie.

Die Herald het dié talentvolle 18-jarige genader om te hoor waar sy haar inspirasie en energie vandaan kry.

Nikita is gou besig om naam vir haarself te maak, danksy haar unieke styl met die verfkwas.

Benewens die feit dat sy ‘n talenvolle jong skilder is, is sy ook ‘n uithaler wanneer dit by drama kom en haar unieke sangstem het al menig mense bekoor.

Sy is beskeie oor haar talente en het dadelik gesê dat die mense tog nie moet dink dat sy die Herald genader het vir publisiteit nie.

Dit was inderdaad andersom en die Herald het haar genader om meer van die sprankelende, positiewe tiener te wete te kom.

Nikita se motto in die lewe is: “Be not afraid of greatness some are born great, some achieve greatness and some have greatness thrust upon them” — (William Shakespeare).

Die matrikulant van die die Hoërskool Stoffberg vertel dat sy in graad nege begin teken het, maar eers in graad 10 werklik begin skilder het, juis omdat sy kuns as ‘n vak het.

Nikita, wat al van kleins af sing en drama doen, het geglo dit is waar haar toekoms lê, maar haar nuutgevonde talent het haar toekomsplanne so bietjie deurmekaar gekrap.

Sy vertel dat sy skilder en skets, afhangende van hoe sy voel.

“Skilder bly my gunsteling, omdat ek ekspressief kan wees, maar as ek stiltetyd benodig verkies ek sketse, veral pen en potlood.”

“Ek skilder graag dinge waarvan ek hou en wat ek eendag in my huis sou hang. Figuurstudies is my gunsteling, veral die vroulike figuur met mooi kurwes,” het sy vertel.

Nikita verkoop ook baie van haar kunswerke.

“Ek hou daarvan om my werke met mense te deel en ‘n stukkie van myself in hulle huise te hê,” het sy gesê.

“Die meeste van my kopers hou van my ekspressiewe tegniek. Ek sit soveel gevoel in my werk en glo dat dit die mense ook aanraak.”

Haar studies is vir haar belangrik, veral omdat dit haar finale jaar op skool is, maar sy sorg dat sy tyd inruim vir alles.

Nikita is sedert graad vier tot huidiglik nog elke termyn in die top 10 akademiese spanne wat by die skole aangewys word.

“Ek wil na matriek graag by Open Window gaan studeer, waar daar in kuns, asook film, gespesialiseer word,” het sy vertel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button